BRIEF 162: Versorging begin in die hart
#LieweLeser
In my ouma se laaste jare moes ons my ma help om haar ma te was, aan te trek, op te help en haar hare te kam. Dit was vir my lekker om haar te versorg en na haar te kyk wanneer ons op die plaas was. Ek kon haar grimeer en haar hare mooi maak. Kwaliteit tyd. Alhoewel sy baie dinge in die lewe self wou doen, was my handewerk een van die dinge wat altyd haar goedkeuring gedra het. Haar laaste dag op die plaas was 'n klokhelder dag. Ek onthou dit goed. Ons het in die son gesit en ek het haar voete in 'n skottel gewas – sy was toe al in 'n rolstoel. As ek nou daaraan terugdink, besef ek net watter simboliek agter dié gebaar gestaan het: reiniging, waardigheid, liefde in aksie, nederigheid, diensbaarheid, voorbereiding, versoening en vergifnis.
Dis waardes wat met dié van die Opleidingsinstituut ooreenstem. Wat jy van my ouma se storie moet weet, liewe Leser, is dat daar meer as 'n 1 000 km tussen ons was. Die uitdaging om haar te versorg, was groot, want sien, sy was een met die plaas. Met elke kuier moes ek leer en haar versorging aanpas by haar verswakking. My ma het my touwys gemaak.
Die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut rus mense toe om met kennis, vaardigheid en deernis na ander om te sien. Benewens hul geakkrediteerde versorgingsopleiding bied hulle ook kortkursusse aan, waaronder noodhulp, palliatiewe sorg en die begeleiding van persone met gestremdhede. Studente ontwikkel nie net praktiese vaardighede soos persoonlike versorging, basiese gesondheidswaarneming en veilige hantering van pasiënte nie, maar word ook gevorm deur 'n Christelike waardestelsel wat diensbaarheid, respek en menswaardigheid beklemtoon. Dit is lewensvaardighede wat jou toerus om met selfvertroue en deernis na 'n ouer, familielid, vriend of enige lid van jou gemeenskap om te sien.
Ek weet 'n mens moet vrede maak met die tye toe ons nie van beter geweet het nie, maar soms wonder ek of ek my ouma dalk beter sou kon ondersteun as ek hierdie kursus geneem het. 'n Bietjie meer geduld, 'n bietjie meer empatie, en ja, 'n bietjie meer insig. Dalk val hierdie brief iewers op die regte plek en tyd, want miskien is daar 'n kleindogter wat ook na haar ma of ouma moet omsien en net 'n bietjie hulp nodig het.
Vriendelike groete
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: https://helpendehandopleiding.co.za/