BRIEF 163: Genoeg
#LieweLeser
Ek lees tans The Psychology of Money deur Morgan Housel. Baie interessant. In die boek vertel die skrywer van 'n gesprek tussen Kurt Vonnegut en Joseph Heller by 'n partytjie op Shelter Island. Die gasheer was 'n verskansingsfondsbestuurder wat op daardie een dag meer geld gemaak het as wat Heller met sy suksesvolle roman, Catch-22, sy hele lewe lank verdien het. Vonnegut het dit as 'n ironiese speletjie beskryf, iets wat 'n mens behoort te laat glimlag of dalk selfs effens ongemaklik laat voel. Heller se reaksie daarop was egter nie jaloesie of verbasing nie. Hy het eenvoudig net gesê: "Ja, maar ek het iets wat hy nooit sal hê nie … genoeg."
Daardie woord "genoeg" is so eenvoudig dat dit amper maklik is om dit mis te kyk. Morgan Housel skryf dat hy self stil geraak het toe hy dit lees, en ek verstaan waarom. Dit konfronteer iets wat baie van ons ongemaklik goed ken: die feit dat ons in 'n wêreld leef waar daar altyd net nog 'n bietjie meer is wat wag.
Meer geld, meer sukses, meer status, meer besittings, meer sekerheid wat altyd net buite bereik skuif soos jy nader kom. Selfs wanneer mense baie het, is daar dikwels nie 'n punt waar ons kan sê dat dit nou genoeg is nie. Dit voel eerder asof die maatstaf aanhou beweeg, en elke nuwe vlak word net die begin van die volgende mikpunt.
Heller se sin gee diepte. Hy het nie gesê hy het meer as genoeg nie of dat hy tevrede moes wees met wat hy het nie. Hy het eenvoudig erken dat daar 'n grens is waarbinne die lewe sin maak sonder dat dit voortdurend groter hoef te word. Mooi, né? Om genoeg te hê, is nie 'n verskoning om op te hou leef of groei nie, maar eerder 'n erkenning dat nie alles wat waardevol is, meetbaar is in meer nie.
Wat ek by hierdie storie geleer het, was om te besef hoe klein die woord "genoeg" is en hoe groot die idee word wanneer jy regtig daaroor dink. Want as "genoeg" nooit kom nie, sal dit altyd baie min voel.
Vriendelike groete
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5