BRIEF 165: Buite jou beheer
#LieweLeser
'n Paar maande terug het ek 'n moeilike seisoen ervaar. Dit was 'n tyd van afskeid, verlies en veranderinge wat ek nie kon beheer nie. Soms bring die lewe draaie waarvoor niemand regtig voorberei kan wees nie. Die enigste ding waaroor ek beheer gehad het, was hoe ek die mense rondom my sou groet en watter voetspoor ek sou agterlaat. Ek het my bes gedoen om elke afskeid met waardigheid, dankbaarheid en liefde te hanteer.
In die swaarste dae was daar heelwat goeie dinge wat my staande gehou het. Klein oorwinninkies. 'n Vriendelike boodskap op die regte tyd. 'n Onverwagte lag tussen die trane. 'n Stil oomblik met 'n koppie koffie. 'n Liedjie wat my herinner het dat beter dae weer sal kom. Alhoewel my gemoed swaar was, was ek dankbaar vir elke klein ligpunt wat sy weg deur die donker gevind het.
Dit het my geleer dat dankbaarheid nie altyd in die groot oomblikke leef nie. Soms woon dit in die gewone dinge wat ons maklik miskyk. Die mense wat vra hoe dit gaan en regtig luister na die antwoord. Terugskouend besef ek dat die klein goedjies nie net my dae beter gemaak het nie. Dit het my daaraan herinner dat selfs in seisoene van verlies daar steeds redes is om hoop te koester en dat selfs wanneer dinge buite ons beheer is, daar nog skoonheid is om raak te sien en goedheid is om voor dankbaar te wees.
Vriendelike groete
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5