Brief 166: Die krag van ‘n hart wat gee

#LieweLeser

My oupa was 'n diensbare man. In die gemeenskap was hy bekend vir sy helpende hand, grappies, positiewe gesindheid en die liefde wat kinders vir hom gehad het. As kinders jou liefhet, sê dit reeds baie van jou karakter. Dat die grootmense net so mal oor hom was, het dit net verder bevestig. My oupa het die gesukkel van die lewe baie goed geken, maar sy hart het ook die kwaliteit daarvan verstaan. Om diensbaar teenoor ander te wees, het van hom die rykste man gemaak. Ja, liewe Leser, mense kon baie leer uit sy manier van leef.

 

As kind het ek altyd gedink dat rykdom in aardse dinge lê. Ek het later eers besef dat om diensbaar te wees en te gee 'n groter geskenk is as om te ontvang. Diensbaarheid vra dat jy verby jou eie omstandighede kyk en eers iemand anders se swaarkry raaksien. Dit vra dat jy luister voordat jy antwoord, en dat jy teenwoordig bly wanneer daar nie maklike oplossings is nie.

 

Dis wat Solidariteit Helpende Hand se maatskaplike werkers en vrywilligers elke dag doen: Hulle ontmoet mense in moeilike omstandighede. Hulle is die draers van ware verhale wat die meeste van ons nooit sal kan dra nie. Soms is die lewe se gesukkel net te swaar vir een mens om te dra, maar die teenwoordigheid van mense wat omgee, maak die las ligter. Daar is 'n rede waarom ons maatskaplike werkers en vrywilligers as dié ligdraers in die gemeenskap sien. Dis die mense wat jou in die donkerste tye herinner dat daar hoop is en dat lig altyd weer 'n manier sal kry om jou te vind.

 

Soos 'n kers nie sy lig verloor deur 'n ander kers aan te steek nie, verloor ons ook niks wanneer ons goedheid met ander deel nie. Mag ons elke dag kies om diensbaar te leef en uit liefde 'n manier vind om mekaar te dien, want die nalatenskap van 'n mens is nie wat hy versamel het nie, maar hoeveel lewens hy met liefde aangeraak het.

 

Vriendelike groete

Hilde Kruger

Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: https://helpendehandopleiding.co.za/

BRIEF 166_Waardeaanbod_Maatskaplik copy