Brief 167: Môre se moontlikhede

#LieweLeser

Ek het onlangs eers uitgevind dat my voorouers met koring geboer het. Ek was in die veld en het opnuut weer na die wêreld om my gekyk en 'n prentjie probeer skep van hoe dit sou lyk as alles met goue koringare bedek was. Vir my as prentjie-mens sou die plaas prentjiemooi gelyk het. Daarvan is ek seker.

In daardie tyd moes jy alles self plant en oes. Daar was geen kitsoplossings of masjiene wat die werk in 'n oogwink vir jou kon doen nie. Elke saad moes met sorg in die grond geplant word. Een vir een … Daarna het die wagtyd gekom. Geen stelsel in sig nie, net vertroue met die wete dat jy op die Here moet wag.

Miskien is vandag se lewe nie so anders nie …

Ons leef in 'n wêreld wat onmiddellike resultate verwag. Ons wil vandag plant en môre oes. Ons meet sukses aan spoed en vergelyk ons reis met dié van ander. Ons vergeet dikwels dat die belangrikste dinge in die lewe stadig groei – karakter, wysheid, vertroue, verhoudings, drome ... Dis seker een van die redes waarom Solidariteit Helpende Hand se PlantSelf-projek een van my gunstelingprojekte is: Dit moedig die gemeenskap aan om weer self te begin plant. Want sien, om te plant is om hoop te kweek. Dit sê vir my dat jy in môre se moontlikhede glo.

PlantSelf verstaan hierdie beginsel. Die projek fokus nie net op die fisiese voordele van 'n oes nie, maar ook op die veranderinge wat in 'n mens plaasvind. My voorouers het waarskynlik geweet dat elke oes met geloof begin. Jy plant lank voordat jy die eerste koringaar sien. Jy werk omdat jy glo dat die seisoene sal draai en dat die aarde op sy tyd vir jou iets sal teruggee en daarom plant ons self.

Vriendelike groete

Hilde Kruger

Solidariteit Helpende Hand
Lees meer oor PlantSelf hier: https://helpendehand.co.za/plantself/

BRIEF 167_More se moontlikhede.100