Brief 168: Vuurtorings en Vuurwagters

#LieweLeser

'n Vuurtoring en 'n kerktoring laat my telkens aan my ma dink. Wanneer ons saam deur Suid-Afrika reis en die land se klein dorpies verken, maak ons byna altyd tyd om by die plaaslike kerk of, indien ons langs die kus is, by 'n vuurtoring stil te hou om 'n foto of twee te neem.

Van kleins af het my ma ons geleer dat 'n vuurtoring nie vir sonskyndae opgerig is nie, maar vir donker nagte en storms. Lank voordat moderne navigasiestelsels bestaan het, was die Suid-Afrikaanse kus een van die gevaarlikste seeroetes ter wêreld. Vuurtorings was in daardie tyd noodsaaklik vir lig, sodat lewens, handelsroetes en die ontwikkeling van die land beskerm kon word.

Soms vergeet ons dat daar vuurtoringwagters ook was. Hulle het dikwels saam met hul gesinne op afgeleë kusgebiede gewoon waar die see hul grootste uitdaging was. Hulle verantwoordelikhede was onder andere om die lense te poleer, olie aan te vul, die lamp elke aand betyds aan te steek en deur die nag seker te maak dat die lig nie uitdoof nie. Gedurende storms moes hulle dikwels uitgaan en die beskadigde toerusting herstel sodat die vuurtoring nie sy lig verloor nie. Omdat baie vuurtorings op afgesonderde rotspunte of langs onherbergsame kuslyne geleë was, is basiese benodigdhede soos voedsel soms net een keer per maand afgelewer. Die beroep het daarom nie net tegniese vaardighede vereis nie, maar ook deursettingsvermoë, veerkragtigheid en 'n pligsbesef, aangesien die veiligheid van talle seevaarders van hul toewyding afhanklik was.

Miskien word elkeen van ons iewers langs die lewenskus geroep om 'n vuurtoringwagter vir iemand te wees. Soos die wagters van ouds leer die lewe ons dat getrouheid nie op sonskyndae gevorm word nie, maar in die ure wanneer die wind huil, die golwe breek en die son agter die horison verdwyn. Volhard in geloof en spaar jou olie vir moeilike dae. Soms is jou stille volharding die baken wat iemand anders veilig huis toe lei al sal jy dalk nooit weet wie in die donker op jou lig staatmaak nie.

 

Vriendelike groete

Hilde Kruger

Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5

BRIEF 168_Vuurtorings en vuurwagters copy