Brief 169: Spinnerakke van die lewe
#LieweLeser
My pa het 'n paar jaar terug aan ons verduidelik dat een van 'n paar dinge kan gebeur as 'n stadsjapie op 'n plaas aankom: Jy gaan van die plaaslewe hou en daarby aanpas. Of nie. My pa het ons geleer om ondersoekend na die lewe te kyk. Om dinge nie net te sien vir wat dit is nie, maar om die moontlikhede ook raak te sien. Soms verg dit tyd, en boonop baie geduld, maar die lewe gee sy mooiste lesse dikwels aan dié wat bereid is om lank genoeg stil te staan en waar te neem.
Op die plaas ontdek jy gou dat elke dier sy eie ritme het. Dou voor dag sal ons die glinstering van elke spinnerak oor die grasperk sien en in die middel van die dag die voëls wat besig is om nektar te versamel. Elkeen doen waarvoor hy geroep is op 'n tyd wat vir hom gegee is.
Een van die mooiste verhale wat my pa destyds met ons gedeel het, was dié van 'n klein suikerbekkie wat besig was om sy nes te bou. Om nes te bou, was nie vreemd nie, maar die feit dat hy spinnerakke soos garing versamel het en sy nessie met gom aanmekaar geweef het, was wél iets om dop te hou. 'n Regte argitek – dié voëltjie.
Dit het my laat wonder hoeveel spinnerakdraadjies God in ons eie lewens gebruik. Klein dingetjies soos 'n gesprek wat presies op die regte tyd plaasvind om 'n verhouding te versterk. 'n Boek wat jou perspektief verander. 'n Teleurstelling wat jou karakter vorm. 'n Vriendskap wat jou dra wanneer jy self nie meer kan nie. Daardie klein dingetjies wat 'n groot impak kan hê.
Dalk is dit die grootste les wat die plaas en my pa se waarneming my geleer het – om te besef dat die lewe nie net in die groot oomblikke gebeur nie, maar ook in die klein dingetjies wat die meeste mense miskyk. En dalk is dit ook van toepassing op hoe God in ons lewens werk. Soms sien ons net hoe die los drade van die spinnerakke in ons lewens bymekaar gemaak word, maar God sien reeds die nes. Perspektief. 'n Mens moet net geduldig sit en wag.
Vriendelike groete
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5