Brief 171: Dorings in die vlees
#LieweLeser
Ek onthou die heel eerste keer toe ek kaalvoet in 'n witdoring getrap het. Die wetenskaplike naam daarvoor is Senegalia polyacantha, maar as Afrikaanssprekende sal ek dit altyd as 'n witdoring sien. Terug by my storie … Dit was onverwags, pynlik en onaangenaam. Ek het dadelik in trane in die parkeerterrein op die grond gaan sit, my voet vasgehou en na die situasie gekyk. Dit was nie lank nie of ek hoor 'n motor wat gereed maak om te ry. Ek het agter die motor gesit met die doring in my voet. Die paniek het ingeskop en ek het dadelik blou moord geskree, sodat die motor nie oor my moet ry nie. Genadiglik het my pa my gehoor, my met die doring in my voet opgetel en op 'n veilige plek gehelp om die doring uit te haal terwyl die voertuig sy eie pad vind. Behalwe vir die doring wat in my voet sit, het niemand seergekry nie.
As ek vandag aan hierdie storie dink, dink ek net hoe onvoorspelbaar die lewe vir 'n kind kan wees. Eers die doring en toe die voertuig. Dis omstandighede waarvoor ek nie gevra het nie, maar wat ek wel ontvang het. Ek moes my stem gebruik om vir hulp te vra met die hoop dat iemand na my noodkreet sal luister. Vir baie kinders is die wêreld egter nie altyd voorspelbaar of veilig nie. Omstandighede buite hul beheer kan veroorsaak dat hulle grootword sonder die ondersteuning wat elke kind behoort te hê. Juis daarom is veilige ruimtes so belangrik. Dit is plekke waar kinders nie net versorg word nie, maar waar hulle die geleentheid kry om te ontdek wie hulle is en wat hulle kan word.
Solidariteit Helpende Hand se Ons Plek-kleuterskole en -naskoolsentrums bied daagliks aan honderde kinders 'n veilige plek waar hulle liefde, versorging en voedsame etes ontvang en die geleentheid gebied word om hul volle potensiaal te bereik.
Ja, liewe Leser, dorings hoef nie altyd in die vlees raakgesien te word nie. Kinders floreer wanneer hulle weet dat hulle veilig is. Hulle leer ook makliker wanneer hulle nie honger is nie en waag groter drome wanneer iemand in hulle glo.
Selfvertroue ontwikkel wanneer hulle ervaar dat hulle raakgesien en waardeer word – daarvan kan ek getuig, want dit was ook die dag toe my pa my gehelp het om self die doring uit my voet te haal en ek die namiddag weer buite kon speel.
Vriendelike groete
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: https://helpendehand.co.za/donasie-aan-ons.../donasie/