Brief 173: Jy is waar jy moet wees
#LieweLeser
Ek het 'n rukkie terug afgekom op 'n TikTok-kortvideo van 'n Afrikaanse dame wat iets op die hart gehad het. Jonk en in haar twintigs. Op die beeldmateriaal kan jy duidelik sien dat sy met haar eie uitdagings sit. Kanker. In haar geval is dit haar tweede stryd. Die motiverende boodskap is nie met 'n filter of agtergrondmusiek afgerond nie. Sy glimlag ook nie regtig nie. Dis 'n rou gesprek. Dis seker waarom dit my aandag getrek het en ek net vir 'n rukkie moes stil sit en luister wat sy te sê het.
"Jy is waar jy moet wees." Dit was haar boodskap. Sy brei 'n bietjie uit deur te noem dat jy nie jou lewensreis moet onderskat omdat dit anders lyk as iemand anders s'n nie. Elke mens het 'n unieke pad, tydsberekening en doel. Jy is waar jy moet wees, nie omdat elke dag maklik is nie en ook nie omdat alles reeds vir jou uitgewerk het nie, maar omdat elke seisoen van jou lewe besig is om iets in jou te vorm wat jy later gaan nodig hê.
Aan die einde van die video het ek besef die boodskap is nie vir gemotiveerde mense nie, maar vir moedeloses. Jy hoef nie al die antwoorde vandag te hê nie … Soms verg dit net vertroue en die wete dat alles gebeur soos dit moet.
Miskien is jy vandag nie op die plek waar jy gedink het jy sou wees nie. Miskien lyk jou lewe heel anders as die planne wat jy jare gelede gemaak het. Die paaie wat ons die minste sou kies, is dikwels die paaie waarop God ons die meeste leer. Hou moed en hou aan om met vertroue te stap, want die volgende tree sal jou lei na presies waar jy volgende moet wees.
Vriendelike groete
Hilde Kruger
Solidariteit Helpende Hand
Lees jou briewe hier: http://bit.ly/3JMx8J5