Brief van Lynette Beer

Aan die leser, ek is Lynette Beer, met ‘n passie vir my werk by Seeds of Inspiration en ook vir HelpHetta. Dankie dat jy vandag ‘n stukkie uit my pen lees.

Ek is een van die gelukkiges wat my drome daagliks kan uitleef as motiveringsspreker en direkteur van my eie maatskappy, Seeds of Inspiration. Ek streef daarna om mense te help om te ontdek wie hulle is en hoe om hul drome te verwesenlik. Deur werkswinkels, vrouekampe en ander optredes leer ek mense hoe hul hulself en ander beter kan verstaan, en ek motiveer elkeen wat my pad kruis om ‘n lewe van uitnemendheid te hê. Kinders lê my ook na aan die hart en daarom is ek mede-eienaar van EQ4Kids, ‘n program wat landswyd emosionele intelligensie by 3 tot 18 jariges bevorder.

Die HelpHetta-projek spreek direk tot my hart aangesien ek ook nie kinderjare van weelde en oorvloed gehad het nie. Ek onthou hoe ek kaalvoet atletiek moes doen omdat daar nie geld was vir ‘n luukse soos atletiekskoene nie. Destyds al het ek besluit dat my omstandighede nie gaan bepaal wie ek is en wat ek in die lewe kan bereik nie.

Ek het geweet ek is geroep tot meer, geweet ek moet mense se lewens verander. Die pad van die dogtertjie wat Vrydaemiddae met ‘n swaar skinkbord moes loop en koeks

isters verkoop tot waar ek vandag is was nie maklik nie. Dit het baie harde werk, opofferings en deursettingsvermoë geverg.

Langs die harde pad was daar egter kort-kort mense-engele wat hand uit gesteek het en my gehelp het. Wat seker gemaak het ek bly op die spoor, wat fisies en psigies daar was vir my, soms net met raad, ander kere met goed wat broodnodig was. Vir hulle sal ek altyd dankbaar bly en daarom is dit vir my ‘n voorreg om deel van die HelpHetta-projek te wees. Ek glo dat elkeen uniek geskape is met ‘n doel en dat ons moet help sodat hierdie meisies, elkeen met soveel potensiaal, nie deur omstandighede gekortwiek word nie.