Kerswense vir Danville

Solidariteit Helpende Hand het op 18 Desember 2017 hoop in die Danville gemeenskap geskep wat swaar onder maatskaplike euwels soos armoede gebuk gaan! Die gemeenskap is verras deur ‘n besoek van bekende sangers en akteurs en die Helpende Hand-span.

Sangers soos Monique Steyn, Hennie Jacobs, Paulo Azevedo en Altus Theart het saam met Helpende Hand die gemeenskap besoek. Die sterre kon eerstehands sien hoe swaar dit gaan met baie van die gesinne in Pretoria-Wes.

Helpende Hand het lede van die gemeenskap toegerus om self hulle naastes se swaarkry te verlig met kospakkies. Hierdie vrywilligers identifiseer, assesseer en ondersteun die mees behoeftiges met kospakkies.

‘n Studie is ook onder die mense gedoen om te bepaal wat presies in hulle kosmandjie is waarmee hulle hul gesinne moet voed. Byna die helfte van die persone het nie geld om ooit kos self te koop nie en is dus heeltemal afhanklik van die kospakkies wat hulle by Helpende Hand ontvang. ’n Skokkende 45% van persone het aangedui dat hulle nooit kos koop nie.

Volgens die studie, is die kosmandjie wat hierdie mense ontvang via skenkings en ook wat hulle self koop, byna die helfte daarvan wat deur Stats SA voorgestel word. Die Danville Kosmandjie se waarde is ongeveer R426.24, terwyl die voorgestelde een R829.32 is.

Slegs 24% van die persone wat deel was van die studie het ’n werk, hetsy los werkies of ’n vaste betrekking. Die gemiddelde inkomste van die gesinne was R1804,39, waarvan R1187,86 afkomstig is van SASSA toelae of pensioen.

Volgens Ernst Vorster, Adjunk-Uitvoerende Hoof: Kommunikasie by Helpende Hand is hierdie maar net een van baie sulke geleenthede. “Ons het ‘n uitdeelaksie gehou om die arm gemeenskappe in Danville, Pretoria te ondersteun vir die komende Kersseisoen. Die kinders wat die geleentheid bygewoon het ook almal ‘n geskenkie ontvang. Helpende Hand deel tans 1500 kospakkies ter waarde van R675 000 per maand landwyd uit , waarvan die waarde per kospakkie ongeveer R450 – R500 strek.”

Om Helpende Hand by te staan met hierdie broodnodige hulp aan behoeftige gemeenskappe, SMS die woord “bord” na 38969 en skenk so geld vir die projek. (SMS kos R10).