Covid-19-entstof: stel kwesbares bó politieke speletjies

Phillip Bruwer

Die welsynsorganisasie, Solidariteit Helpende Hand, het sy kommer uitgespreek dat politieke ideologie die verspreiding van Covid-19-entstof na kwesbare groepe kan belemmer.

 

Dit volg nadat die Sondagkoerant, Rapport, berig het dat president Ramaphosa tydens ʼn virtuele vergadering tussen die ANC se top-ses en die Progressive Business Forum gesê het dat die verspreiding van entstowwe geleentheid vir swart bemagtiging gaan bied.

 

“Kwesbare groepe, soos ouer persone en gestremdes met mediese risiko’s, veral dié wat nie mediese fondse het nie, het die reg op billike en effektiewe gesondheidsdienste. Die beskikbaarheid van entstof kan vir hulle ʼn saak van lewe en dood wees. In so ʼn krisistyd moet daar nie nog meer regulasies ingestel word wat die verspreiding van entstof verhinder nie. Entstof moet so vinnig en doeltreffend as moontlik versprei word,” sê Rene Roux, Helpende Hand se adjunkhoof van kommunikasie.

 

Roux sê die publiek het boonop reeds min vertroue in die regering weens beweerde ongerymdhede met die verspreiding van beskermende produkte teen Covid-19 in 2020.

 

“Daar is tans baie praat, baie politiek en baie spekulasie, maar ons kwesbare groepe ly daaronder. Helpende Hand doen ʼn beroep op die regering om nie nou in ’n tyd van pandemie, ideologiese diskriminerende besluite te neem nie, maar om die gesondheid van mense eerste te stel en hulle te beskerm. Entstof moet so vinnig en effektief as moontlik versprei word, deur gevestigde en betroubare maatskappye wat reeds hul doeltreffendheid bewys het,” sê Roux.

 

Roux het gesê Helpende Hand ondersteun ook Solidariteit wat Dinsdag ʼn dringende skrywe aan onder meer die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die nasionale Covid-19-bevelsraad gerig het oor die regering se oënskynlike planne om swart bemagtiging deur die verspreiding van entstowwe te bevorder.