Skip to content

Demi Lee Moore help behoeftige meisies

Demi Lee Moore wys haar twee rokke

Die bekroonde Afrikaanse sangeres Demi Lee Moore is pas as Solidariteit Helpende Hand se ambassadeur van dié liefdadigheidsorganisasie se #HelpHetta-projek aangewys.

Rene Roux, adjunk-uitvoerende hoof van kommunikasie by Helpende Hand, sê Demi Lee Moore is verlede jaar as die wenner van die werklikheidsreek, Die Kontrak, gekroon en as deel van haar prys het sy by al die Afrikaans is Groot 2018-konserte opgetree. Sy het ook altesaam vyf Ghoema-toekennings verower vir haar debuutalbum, Mis, eet, slaap, herhaal, wat ná Die Kontrak vrygestel is.

“Nou gebruik sy haar tyd en invloed om ’n merkwaardige verskil in meer as 3 000 hulpbehoewende hoërskool- en laerskoolmeisies se lewens te maak wie se huishoudings dit nie kan bekostig om sanitêre ware aan te koop nie. Dié meisies mis soms tot 55 skooldae weens die sensitiewe sakie. Demi Lee het nie net ’n goue stem nie, maar ook ’n hart van goud,” sê Rene.

“Demi Lee Moore het haar twee droomrokke, wat sy onderskeidelik by die Afrikaans is Groot-konserte en die Ghoema-toekennings gedra het, aan #HelpHetta geskenk. Een vir ’n behoeftige matriekmeisie se matriekafskeid en een om opgefeil te word om produkte vir die #HelpHetta-projek aan te koop,” sê Rene verder.

Demi Lee Moore sê sy sien daarna uit om #HelpHetta se ambassadeur te wees en dat dié projek haar na aan die hart lê.

“Ek onthou ek was op hoërskool en was in die winkel toe kyk ek wat sanitêre ware kos. Ek het nog daar gestaan en by myself gedink hoe bekostig ’n mens dit as party mense skaars ’n brood kan bekostig? As jy ’n keuse moet maak tussen kos en sanitêre ware, watse een gaan jy dan kies? Dit is vir my dus belangrik om deel te wees van dié projek want ek wil graag saam met die publiek hulpbehoewende meisies help om hul lewensgehalte te verbeter,” sê Demi Lee Moore.

Demi Lee Moore sê tienermeisies het genoeg om hulself oor te bekommer, menstruasie moet beslis nie een van daardie goed wees nie. “Meisies moet veilig by die skool voel en moet met selfvertroue kan rondstap op die skoolgronde of aan sport deelneem,” sê Demi Lee Moore.

“Die rokke wat ek vir #HelpHetta geskenk het, het ek gedra tydens twee belangrike gebeurtenisse in my lewe. Dit was baie groot aande vir my waarin my drome waar geword het. Ek het net ’n tydjie terug gedink die rokke hang net daar in die kas. As ek dit kan skenk en ’n verskil maak, hoekom nie? Toe kom #HelpHetta oor my pad en dit was ’n perfekte kombinasie en ek hoop dit kan ander meisies se drome ook waar maak,” voeg sy by.

Behoeftige matriekmeisies kan aanlyn aansoek doen om Demi Lee Moore se Ghoema-rok, kompleet met ’n mooimaaksessie, te kry vir haar groot aand. Mense wat ’n aanbod wil maak op Demi Lee se Afrikaans is Groot-rok kan ook aanlyn ’n aanbod maak. Besoek www.helphetta.co.za vir meer inligting of om ’n bydra te maak. Albei rokke kom van Bride&Co af en die waarde is byna R7 000 rand elk.

AGTERGROND

#HelpHetta is ’n deurlopende projek wat Helpende Hand in 2015 van stapel gestuur het om jaarliks, een keer ’n kwartaal, ’n versending sanitêre ware aan nagenoeg 3 000 hoërskool- en laerskoolmeisies van nagenoeg 100 skole landwyd te stuur. Helpende Hand se plaaslike takke sorg dat die behoeftige meisies in hul onderskeie gemeenskappe vir die res van die jaar geholpe is.

Hetta is ’n doodnormale meisie. Sy sit langs jou dogter in die biologieklas en speel in die eerste hokkiespan van haar hoërskool. Sy bloos saam met haar vriendinne in haar graad as die matriekseuns verbystap en gesels graag saam met die meisies oor die nuutste modes en haarstyle. Maar soms, bly Hetta net ’n week weg van skool. Sonder dat sy laat weet of dat iemand weet waar sy is. In hierdie tyd mis sy belangrike toetse en opdragte wat ingegee moes word. Onderwysers trek net skouers op omdat geen doktersbriewe ingehandig word nie. Sy mis uit op die skooldans en hokkie oefening. Sy is selfs verlede week afgeskuif na die tweede hokkiespan omdat die afrigter moeg is daarvoor dat sy so gereeld oefening mis. As mens vir Hetta vra waar sy was, is die antwoord altyd dieselfde “ag sommer dinge by die huis”.

Die waarheid is egter dat Hetta en haar ouers nie sanitêre ware kan bekostig nie. Die afwesigheid van hierdie produk wat die meeste van ons as vanselfsprekend aanvaar, het reusagtige gevolge op skoolgaandemeisies se lewens. Daarom het Helpende Hand die #HelpHetta projek van stapel gestuur om hierdie meisies van sanitêre ware en ander noodsaaklike higiëniese produkte te verskaf.

Daar is Hetta’s oral om ons. Ons sien nie die seer en vernedering waardeur hul moet gaan op ’n maandelikse basis nie, maar jy kan help om dit makliker vir haar te maak.