Departement se boelie-taktiek werk toe nie

Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS) is verheug oor Regter Bill Prinsloo se beslissing in die saak tussen Hoërskool Overvaal en die Departement van Basiese Onderwys in Gauteng. Die SOS is egter bekommerd oor die wydverspreide boelie-taktiek wat deur die departement geïmplementeer is om hulle sin te kry.

Regter Prinsloo het beslis dat Hoërskool Overvaal nie plek het om die addisionele 55 leerders, wat die departement daar wou laat inskryf, te akkommodeer nie. Die toevoeging van die 55 leerders sou die skool genoop het om ʼn dubbelmediumskool te word.

Regter Prinsloo het sy kommer uitgespreek oor die tekort aan deeglike ondersoek deur die departement. Volgens hom is daar twee nabygeleë skole wat beter geskik is om die leerders te akkommodeer. Hy het verder die departement gekritiseer vir wat hy gesien het as intimidasie.

Volgens Dr. Danie Brink, Hoof Uitvoerende Beampte by Helpende Hand is die uitspraak baie welkom, maar is daar steeds rede tot kommer. “Hier is duidelike tekens van ʼn departement wat sy rol oorskry deur in die bestuur van ʼn skool se taalbeleid te wil inmeng. Hierdie tipe boeliery moet nie geduld word nie. Dit is ook onrusbarend om te sien dat daar druk op skole gesit word om leerders te aanvaar wanneer hulle reeds hulle kapasiteit bereik het.”

“Daar is genoeg bewyse uit die saak dat die Departement van Basiese Onderwys in Gauteng die nuwe aanlynsisteem vir graad 8 registrasie gebruik om druk op, spesifiek Afrikaanse-hoërskole te plaas om leerlinge buite hul taalbeleid toe te laat.

Die departement het ook telkens, soos in hofstukke getuig, geensins op dringende skriftelike korrespondensie gereageer nie. Iemand by die Departement van Basiese Onderwys in Gauteng moet hiervoor pa-staan. Die SOS eis dat daar teen diesulke amptenare opgetree moet word.”

Die SOS het vroeër vanjaar ʼn verslag uitgereik oor die 2017 matriekeindeksamen waarin dit duidelik is dat Afrikaanse-skole steeds beter vaar as die nasionale gemiddeld. Die SOS skryf die sukses toe aan onder andere moedertaalonderrig.

“Danksy die regter se beslissing het ons nóg ʼn skool wat in 2018 uitmuntende resultate sal produseer. Die SOS sal ook hulleself beywer om Afrikaanse-skole regoor die land te ondersteun en te bemagtig!”

Die SOS is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand gerig op versterking van Afrikaanse onderwys op alle fronte. Vakverenigings vir Wiskunde-, Afrikaans-, Rekeningkunde- en Grondslagfase-onderwysers bied professionele ondersteuning aan onderwysers. SOS fokus ook op kurrikulum ontwikkeling, leerderondersteuning, onderwysleierskap en aanwending van tegnologie in die klaskamer. Meer as 360 skole en 2 600 onderwysers is reeds lid van SOS.