Skip to content

Departement verras met twee maklike matriekwiskundevraestelle

Die twee wiskundevraestelle van die departement van basiese onderwys wat gr. 12-leerlinge in die afgelope week geskryf het, was verrassend maklik en sou nie veel van ’n uitdaging vir talentvolle leerlinge wees nie.

“Ná Vrydag se eerste wiskundevraestel wat relatief maklik was, was die verwagting dat die tweede wiskundevraestel bietjie meer uitdagend sou wees. Dit was egter nie die geval nie en die tweede vraestel was weereens bloot ’n gemiddelde toets van wiskundeleerders se kennis,” sê Valentyn van der Merwe, onderwysspesialis by die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW), ’n inisiatief van Solidariteit Helpende Hand.

Volgens van der Merwe was die verwagting dat van die nuwe eenhede, veral meetkunde en statistiek, in die tweede vraestel gebruik sou word om talentvolle leerlinge werklik uit te daag. “Die VAW het landswyd met onderwysers, vakhoofde en leerlinge gesels en nêrens kon daar ’n aanduiding gevind word dat dit die geval was nie.”

Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand, maan egter dat hierdie siening nie noodwendig die laaste beskouing oor die vraestel gaan wees nie. “Van die lede van die VAW het reeds vir ons die vraestel uitgewerk en ontleed, maar dikwels verras leerlinge se interpretasie en beantwoording van vrae selfs die mees ervare onderwysers. Ons sal almal maar moet wag ek sien of vraestel 2 so maklik was as wat dit aanvanklik gelyk het.” Brink voeg by dat dit heeltemal te wagte was dat vraestel 1 geen opskudding sou veroorsaak nie.

Volgens Brink het die departement hoogs ervare onderwysers wat die vraestelle opstel en modereer en is hy vol vertroue dat die punteverspreiding normaal sal wees. “Soos altyd, behoort leerlinge wat deur die jaar hard gewerk het, beloon te word, terwyl diegene wat té min té laat gedoen het, se gebrek aan konsekwentheid deur slim vrae uitgewys sal word.”