Depressie en jou kind: Wat ouers moet weet

View of crying boy sitting on staircase

Depressie en jou kind: Wat ouers moet weet

Wanneer 'n kind sĂȘ: "Ek wil nie meer lewe nie," laat dit enige ouer se hart stol. Soms is dit 'n uitroep van emosionele pyn en 'n soeke na hulp, maar dit kan ook 'n ernstige waarskuwingsteken wees. Daarom is dit belangrik dat ouers en onderwysers weet waarna om op te let en hoe om betyds op te tree.

Depressie by kinders en tieners is 'n werklike en ernstige toestand. Dit is nie bloot "tienertwak", aandagsoekery of 'n fase waaruit hulle hulle eenvoudig moet "regruk" nie. Selfs jong kinders kan depressiewe simptome ervaar en professionele hulp is dikwels nodig om hulle te ondersteun.

Die oorsake van depressie is gewoonlik nie geĂŻsoleerd nie. Dit kan deur verskeie faktore veroorsaak word, waaronder:

  • oorerflikheid en chemiese wanbalanse in die brein;
  • trauma;
  • druk van die skool, ouers of maats;
  • konflik of spanning by die huis;
  • verlies van 'n geliefde, troeteldier of vriend;
  • as hulle geboelie word;
  • leer- of leesprobleme wat hulle selfbeeld beĂŻnvloed; en
  • ander geestesgesondheidsuitdagings.

Kinders sukkel dikwels om emosionele pyn in woorde uit te druk. Daarom manifesteer  depressie by kinders dikwels deur gedrag eerder as deur woorde.

Depressie by kinders lyk nie altyd soos hartseer nie. Dit kan ook as woede, onttrekking of fisieke klagtes voorkom. Let op na:

  • skielike veranderinge in gedrag;
  • gereelde hoof- of maagpyn sonder 'n duidelike mediese rede;
  • aggressie, geĂŻrriteerdheid of woedebuie;
  • emosies wat moeilik beheer word;
  • onttrekking van vriende en sosiale aktiwiteite;
  • slaapprobleme of oormatige slaap;
  • eetveranderinge;
  • swak skoolprestasie; en
  • negatiewe opmerkings oor hulself of 'n swak selfbeeld.

Hoe kan ouers help?

Die belangrikste is om nie kinders se emosies af te maak as onbelangrik of hulle te veroordeel nie. Kinders moet veilig voel om met hul ouers te praat. Luister met empatie en wys dat hul gevoelens geldig is.

Professionele hulp speel dikwels 'n sleutelrol. Jong kinders vind dit soms moeilik om hul emosies te verwoord, en 'n terapeut kan help om dit op 'n veilige manier te verwerk.

Ouers kan ook help deur:

  • 'n liefdevolle en ondersteunende omgewing te skep;
  • konflik by die huis op te los;
  • duidelike grense en roetines te handhaaf;
  • die skool in te lig sodat die kind met begrip hanteer kan word; en
  • ontspanning, oefening en stokperdjies aan te moedig.

Nie elke kind benodig medikasie vir depressie nie, maar in sommige gevalle is dit noodsaaklik. 'n Sielkundige of psigiater sal bepaal wat die beste behandeling is. Wanneer depressie met 'n chemiese wanbalans verband hou, kan medikasie saam met terapie baie effektief wees.

Met die regte ondersteuning, begrip en professionele behandeling kan kinders leer om hul emosies beter te hanteer en weer hoop en vreugde te ervaar.