Die hart van werksyn: Onsigbare werk, onmeetbare waarde

Deur Marna Swanepoel
Maatskaplike werker: Solidariteit Helpende Hand Noordwes-streek

As maatskaplike werker het ‘n mens daagliks te doen met mense en hulle seer, maar soms is daar ook ‘n storie wat stil-stil aan jou eie hart raak.

Anna se storie is nie uniek nie. Sy was vasgevang in ‘n siklus van oorlewing, gekenmerk deur werkloosheid en sporadiese afhanklikheid van ondersteuning. In ons gesprekke om haar te probeer help, het ek gefokus op oplossings, hulpbronne en doelwitte – soos ek opgelei is om te doen. Wat my telkens opgeval het is, dat Anna ten spyte van haar swaarkry met sorg oor ander gepraat het. Sy het haar kos gedeel met die bure en na die kinders in die gemeenskap omgesien, al het sy self min gehad. Haar woorde: “Ek het dalk nie veel in die wêreld se oë nie, maar ek beteken iets vir iemand.” Dit het my stilgemaak.

*Anna was ‘n stil bouer van haar gemeenskap. Haar “werk” was informeel, amper onsigbaar, maar met groot impak. Haar dade van sorg het geen salaris of titel gehad nie, maar dit het vertroue, verbondenheid en hoop geskep.

Daardie dag was ek nie ‘n maatskaplike werker nie, maar ‘n leerder. Anna het my eie werksyn verdiep en my laat besef dit gaan nie net oor ‘n betaalde pos of ‘n titel nie, maar oor betekenis, bydrae en menswaardigheid. Dis die erkenning van jou eie waarde binne die groter geheel. Anna het haarself dalk as waardeloos gesien, maar sy het my gewys hoe ryk werksyn kan wees, selfs in armoede. Ek het geleer ware werksyn lê in die gevoel dat jy nodig is en ‘n verskil maak, selfs met klein, amper onsigbare dade. Werksyn in gemeenskapsontwikkeling handel nie net oor ekonomiese deelname nie, maar oor klein, opregte bydraes wat mense laat geborge voel. Anna se storie het my herinner dat volhoubare gemeenskappe gebou word wanneer mense se bestaande sterkpunte raakgesien word, wanneer individue besef hulle is nie net ontvangers van hulp nie maar aktiewe bouers van hulle eie gemeenskap – en dat dit lewens verander, ook myne.

Volhoubare gemeenskapsontwikkeling gebeur nie wanneer ons mense leer hoe om hulp te ontvang nie, maar wanneer ons raaksien dat hulle reeds draers van hoop en betekenis is. Werksyn word gebore waar mense in hul eie waarde begin glo en dit is waar ware verandering begin. Ek het weer besef hoekom ek hierdie pad gekies het: nie om mense “reg te maak” nie, maar om saam met hulle te staan sodat hulle weer hul eie waarde kan sien.

Dankie, Anna, vir die lewensles wat ek by jou geleer het. Dit dra ek nou my lewe deur saam: My bydrae lê nie in dit wat ek bereik nie, maar in die mens wat ek elke dag kies om te wees.

*Anna is ‘n skuilnaam.

Artikel geplaas in