Dié koninkryk, of mý koninkryk? Hoe lyk jou gesindheid in die geloof?

Gert Erasmus

Wanneer ons aan die tema “ons ploeg” dink, sien ons in ons geestesoog iemand wat se geestelike wortels dieper staan en dieper as net oppervlakkig of bolangs indelf. 

Die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar in Lukas 18 is so sprekend vir ons elkeen om tot die besef te kom dat ons almal, baie keer vanweë ons roeping, iets goeds wil doen.  Daardie “iets goeds doen” kom vanuit ʼn hart wat in die wêreld en in die gemeenskap wil inploeg. Dit is wonderlik as mense daardie begeerte het om dinge beter te maak. Daar word met ywer ingespring en in ʼn rigting gewerk.

Innerlike verandering

Wat ons soms vergeet is dat ons éérs innerlik ʼn geestelike verandering en vernuwing moet ondergaan vóórdat ons na buite iets goeds kán doen, of die Here se seën op ons werk kan verwag. Ons staan vandag by dié gedagte stil; is jy met jóú koninkryk, of met God se koninkryk besig?

Gebed is die hart se spieël

In Lukas 18 vind ons die gelykenis van die Fariseër en die tollenaar. Hulle albei het na die tempel toe opgegaan om te gaan bid (vers 10). Ons moet let op die feit dat elkeen met ʼn verskillende bedoeling in sy hart gegaan het. Jesus wys ons óók hier dat die twee verskillende gebede die innerlike of die binneste van elkeen se hart vir ons weerspieël. Hierdie twee persone word in hierdie gelykenis teenoor mekaar geplaas as twee spreekwoordelike spieëls waarop ons vandag kan inkyk.

Die innerlike

Die koninkryk van God is op die mens se ware hartsgesindheid gefokus en nie op die mens se eie gewin van selfsugtigheid, of hoogmoed nie. Die ware koninkryk is ʼn saak van die hart. Die innerlike gesteldheid van jou hart is vir die Here belangrik. Dít sien ons in hierdie gelykenis – die klein dingetjies soos jou gedagtes, jou geestelike hartklop (hartsgesindheid) en geestelike ingesteldheid.  

Wat gebeur in hierdie twee gebede?

Die Fariseër bid in vers 11: “o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie –rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie.” (1953-vertaling).Die Fariseër distansieer homself in sy gebed van die tollenaar. Hy skep ʼn spreekwoordelike kloof. Hy sit op sy mensgemaakte troontjie en kyk neer op die tollenaar en hou homself op ʼn afstand. Ons sien dat hý homself volgens die wêreld se standaarde aan mense meet. Hy meet ondertoe, afwaarts, wêrelds in plaas van boontoe,  deur op te kyk, met die standaarde van God. Ons noem dit Fariseërshoogmoed.

Waarop is jy innerlik gefokus?

Die tollenaar aan die ander kant bid anders. Sy oë is opgeslaan na die hemel, op God gefokus (vers 13): “En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig!” (1953-vertaling). Die tollenaar distansieer homself nie van die Fariseër (wêrelds) nie, maar in wese van die hemel van God met die geloofsbesef dat hy klein voor God is. In nederigheid en in eerbied bid hy en sê: “o God, wees my wat ʼn sondaar is genadig.” Hy kom nie in hoogmoed na die Here toe nie, hy kyk ook nie op sy medemens neer nie. Hy kyk in sy eie kleinheid in gebed op, boontoe, na God. Hy meet homself nie afwaarts nie, maar opwaarts. God is sy enigste maatstaf.

Jou hartsgesindheid

Hoe lyk jou ploegwerk, nie slegs in die eerste plek in jouself nie, maar óók in jou gemeenskap? Ons “na-binne” het ʼn duidelike effek op ons “na-buite”. Dít sien ons hier in die twee spieëls van die Fariseër en die tollenaar se harte. Dink só daaraan God die Vader het nie op ons met oë van wraak “afgekyk” nie. Dink net aan wat met ons sou gebeur het as God op ons sou “afkyk” soos die Fariseër wêreld gefokus was? Néé, Hy het deur die oë van sy Seun na ons gekyk. Hy het met oë van liefde en genade na óns gekyk. Dáárom kan ons met ons geloofsoë na bo vir krag, wysheid en insig soek te midde van al ons daaglikse uitdagings. Dit is wat ons nodig het in ons gemeenskapsontwikkeling.

Hoe moet ons kyk?

Gebed is die spieël van jou hart. Ons gebede moet in die eerste plek in ons binneste inploeg deur onsself aan God hemels te meet. Daardie indelf is nie iets wat vanuit onsself na vore kom nie, moet ons daarvoor na God se Gees bid.

Bid dat die Heilige Gees deur sy Woord in jou hart sal indelf, sodat jy met die regte geloofsgesindheid in jou gemeenskap kan inploeg, in dít wat werklik belangrik is. Maak ʼn verskil in die eerste plek in jouself, deur God se Woord en Gees, en gaan ploeg God se genade binne in jou terug in die ploegland van jou gemeenskap.

Helpende Hand-groete