Die krag van enkelmoeders
Die krag van enkelmoeders
Deur Isabel Faurie
Om 'n ma te wees, is reeds 'n groot roeping. Maar om as enkelma elke dag albei rolle te vervul, vra 'n diepte van krag, deursettingsvermoë en liefde wat min mense ooit regtig sal verstaan.
In 'n wêreld waar die lewe selde volgens plan verloop, word enkelmoeders nog meer uitgedaag. Hulle is die vroue wat elke dag opstaan, aanhou en alles gee, maak nie saak hoe moeilik dit is nie.
Om 'n enkelmoeder te wees, is nie net 'n rol nie – dit is 'n roeping gevul met uitdagings wat dikwels onsigbaar bly vir die wêreld. Dit is die laat nagte en vroeë oggende, die voortdurende balans tussen werk en huis, en die verantwoordelikheid om vir jou kinders nie net te sorg nie, maar ook troos en rigting te gee. Dit is die oomblikke wanneer daar nie 'n skouer is om op te huil nie, die moeilike besluite wat alleen geneem moet word, en die hartseer wat dikwels stil gedra word. En tog – te midde van dit alles bly sy opdaag, bly sy liefhê, en bly sy bou aan haar kinders se toekoms, selfs wanneer sy moeg is.
Enkelmoeders wys vir ons wat ware liefde beteken. 'n Liefde wat opoffer, beskerm en bou. Hulle is dikwels die veilige hawe én die sterk anker in hul kinders se lewens. Hulle leer hul kinders nie net met woorde nie, maar ook met hulle voorbeeld – van deursettingsvermoë, geloof en hoop.
In Meimaand word Moedersdag gevier en dit is belangrik dat ons vir 'n oomblik sal stil word en dink aan die enkelmoeders rondom ons. Dalk is dit iemand in jou familie, 'n vriendin, 'n kollega of 'n buurvrou. Iemand wat dalk nie altyd die erkenning kry wat sy verdien nie, maar wat elke dag 'n verskil maak.
- Kom ons sê dankie.
- Kom ons sien raak.
- Kom ons bemoedig.
Hoe kan ons dit doen?
- Nooi haar uit vir 'n koppie koffie of 'n eenvoudige ete – net om asem te skep en geselskap te geniet.
- Bied aan om een aand na die kinders te kyk sodat sy 'n bietjie kan rus of iets vir haarself kan doen.
- Stuur 'n bemoedigende boodskap om te sê jy dink aan haar.
- Help prakties – dalk met 'n ete, inkopies of skoolritte wanneer haar hande vol is.
- Onthou haar op spesiale dae – 'n klein gebaar kan baie beteken.
- Luister met empatie en sonder oordeel – soms het sy net 'n geduldige oor nodig waar sy veilig kan deel wat op haar hart is.
Dit is dikwels die klein dade van omgee wat 'n groot verskil maak – en wat vir 'n enkelmoeder wys: Jy hoef nie alles alleen te dra nie.
