Die krag van ‘n deugsaam vrou – gebaseer op Spreuke 31

In ‘n wêreld wat dikwels op uiterlike skoonheid en kortstondige glans fokus, staan ‘n ander soort vrou uit – een wie se waarde nie gemeet kan word aan haar uiterlike of materiële rykdom nie. Spreuke 31 beskryf dit so mooi: ‘n deugsame vrou is “baie meer werd as die duurste juwele.” Hierdie vrou is nie net ‘n spilpunt in haar huis nie, maar ook ‘n ligdraer in haar gemeenskap. Sy is ‘n toonbeeld van wysheid, innerlike krag en onwrikbare geloof.

Sy is die een wat soggens eerste opstaan, selfs wanneer die wêreld donker voel. Met vreugde verrig sy haar dagtaak – nie uit plig alleen nie, maar omdat sy weet dat haar handewerk ‘n verskil maak. Sy is bereid om ekstra myle te loop, alles ter wille van haar gesin. Dié vrou verstaan die waarde van werk – sy werk nie net hard nie, maar slim. Sy bou op, plant, beplan, bestuur, onderrig en ondersteun – met wysheid en waardigheid.

Die deugsame vrou is geestelik sterk. Haar geloof is nie ‘n bysaak nie, maar die fondament van haar lewe. Sy leef met oorgawe en het ‘n kalm gemoed oor die toekoms, want sy weet Wie haar hand vashou. Sy is nie bang vir wat kom nie – haar hoop is geanker. Haar mond spreek woorde van wysheid en sy gee goeie raad wat ander inspireer om reg te leef en hoop te behou, selfs in moeilike tye.

Wat hierdie vrou besonders maak, is nie net haar prestasies nie, maar haar karakter. Wanneer die wêreld moedeloos raak, is sy ‘n bron van rus en ondersteuning. Sy sien die potensiaal in elke situasie, en waar ander net probleme raaksien, sien sy geleenthede om lief te hê, te dien en te genees. Sy gee nie maklik moed op nie – haar deursettingsvermoë is soos ‘n fakkel wat lig bring waar daar donkerte is.

Sy is nie lui nie, maar getrou en betroubaar. Haar huishouding funksioneer nie per toeval nie – dis ‘n plek van orde, liefde en warmte. Haar kinders roem haar en is dankbaar vir haar liefde en leiding. Haar man waardeer haar en eer haar – nie net vir wat sy doen nie, maar vir wie sy is.

In hierdie lewe is daar baie goeie vroue – ma’s, dogters, susters, vriendinne – maar die vrou wat die Here liefhet, oortref hulle almal. Haar lewe is nie maklik nie; sy ken pyn, verlies, teleurstelling en bekommernis. Maar sy kies om nie daar te bly nie. Sy kies hoop. Sy kies liefde. Sy kies om ‘n verskil te maak.

Vrou, jy wat dalk vandag moeg is, wat voel jou krag raak min – weet: jou waarde lê nie in hoeveel jy regkry nie, maar in Wie jou dra. Skoonheid vergaan, maar jou geloof, jou hart, jou liefde – dít hou stand. Jy is ‘n seën vir jou huis, jou werk, jou gemeenskap.

In hierdie Vrouemaand bring ons hulde aan jou – die een wat ten spyte van uitdagings altyd opstaan. Die een wat die positiewe raaksien, wat ander dra wanneer hulle nie meer kan nie, en wat vasstaan wanneer alles wankel. Ons eer jou vir wat jy doen. Mag almal jou lof besing.

Vrou, jy is goud werd!