Die Krag van Saam

deur Hannes Noëth

Een van die ou filosowe het eens opgemerk dat daar drie maniere is om wysheid te bekom: Die maklikste is deur nabootsing, die edelste deur selfondersoek en die bitterste deur ondervinding. Die vraag is dus: Leer jy maklik, edel of bitter? Wanneer dit by samewerking kom is ’n mens so dikwels geneig om bitter te leer. Alhoewel daar baie voorbeelde is van hoe samewerking uitloop op krag en baie edel voorbeelde is van hoe samewerking krag uitgewys het, leer ons dikwels op die bitter manier omdat ons eers alles self wil doen. Die lekker is – ons hoef nie. In die groter Solidariteit Beweging besef ons dit terdeë. Ons hoef nie alles nie. Ons hoef nie orals nie. Elkeen moet sy of haar deel doen en dan is alles makliker. Die punt is: Jy is nie alleen nie en jy hoef nie alleen te wees nie. Dit is in ons daaglikse roeping en die uitleef van ons pligte ter sprake, en so ook in die stryd teen armoede en die ontwikkeling van gemeenskappe. Ons hoef nie alleen dit te doen nie.

Van Links: Ernst Vorster Adjunk Uitvoerende Hoof Gemeenskapsontwikkeling, Hannes Noëth, Uitvoerende Direkteur van Solidariteit Helpende Hand en Johan Nel, Adjunk UItvoerende Hoof Operasionele Dienste

 

 

Daarom #Helpmekaar

Wanneer Helpende Hand in 2019 ons veldtog van Helpmekaar versterk en uitbrei, is dit juis om een boodskap te predik: Jy kán alleen, maar jy hoef nie. Ons het al geleer:
• Ons kan nie alleen nie, ons het ander nodig.
• Netwerke is net sóveel kragtiger as eie krag.
• Gemeenskappe is groter as een.
• Verdeelde uitdagings is ligter as uitdagings wat alleen gedra word.
• Óns is beter as ék.
• Mekaar gaan vêrder as alleen.

 

Daarom voel Solidariteit Helpende Hand veilig onder die vaandel van die groter Solidariteit Beweging. Daarom waardeer ons vriende van die Beweging en daarom reik ons uit na húlle buite die Beweging. Daarom is sterker takke vir ons nodig, kragtiger streke, meer netwerke van werk en beter samewerking met almal wat saam met ons verstaan dat ’n mens nie alleen hoef te staan nie. Dit is bitter om alleen te staan. Ons is nie alleen nie. Ons vorm deel van ’n kragtige gemeenskap.

 

Daarom vra ons

Juis omdat ons deel is van ’n kragtige gemeenskap kan ons vir ons gemeenskap vra, ondersteun JouAIG (Jou Afrikaans is Groot) omdat krag wat saamgespan word, sterk krag is. Juis daarom vra ons ons gemeenskap om ondersteuners van Helpende Hand te word. Jou bietjie op sigself is bietjie, maar saam is ons bietjies baie en verander ons gemeenskappe. Helpende Hand werk nie met groot eie krag nie, maar met die krag van baie bietjies. In 2019 verskerp ons die oorspronklike beginsel van saam, mekaar, nie ek nie, maar ons.

Dankie dat jy deel is van ons, van #Helpmekaar, van krag, van ’n verskil van ’n toekoms omdat ons die wysheid bekom het dat ons nie alleen is nie.