Die kuns en krag van diensbaarheid

Wanneer ek as maatskaplike werker die voorreg het om mense in verskillende sfere van die gemeenskap te ontmoet, word ek telkens diep geraak. Daar is mense wat strukture opgebou het om gesinne by te staan; wat hul huise gereeld oopstel as veilige toevlugsoord vir mishandelde kinders; wat organisasies sonder winsbejag (OSW’s) stig met die doel om persone met gestremdhede waardigheid te gee en ‘n plek waar hulle tuishoort; en vrywilligers wat in hul vrye tyd langs eensame bejaardes gaan sit, hulle hande vashou en hulle dag ophelder.

Ek dink ook aan dié wat dit as hul roeping beskou om weerloses van die straat af in te neem, om hulle in hul laaste dae met waardigheid te versorg, saam met hulle te bid, hoop te bring en eenvoudig teenwoordig te wees sodat niemand alleen hoef te sterf nie. In sulke oomblikke beleef ek iets van God se hart vir sy mense. Ek sien egte liefde in aksie. Ek sien diensbaarheid wat nie praat nie, maar doen.

Dit laat my wonder: Besef ons kinders werklik nog hoe kosbaar en noodsaaklik die roeping tot diensbaarheid is? Verstaan hulle die diep impak wat hierdie waarde op die welstand van ‘n gemeenskap het – nie net vir dié wat God se liefde deur diens ervaar nie, maar ook vir dié wat dien? My hoop is dat ons kinders hierdie waardes steeds sal kan volhou in die moderne samelewing waarmee hulle gekonfronteer word.

Elke ontmoeting herinner my daaraan hoe belangrik ‘n diensbare hart is – ‘n hart gegrond op vaste geloof en opregte liefde, maar ook op dade. Soos Jakobus ons in Jakobus 1:22 herinner: ons moet nie net hoorders van die Woord wees nie, maar daders.

Diensbaarheid is nie ‘n bysaak nie; dit is ‘n onmisbare waarde wat doelbewus in gemeenskappe gevestig en gekweek moet word. Dit bevorder nie net samewerking en harmonie nie, maar lê ook die grondslag vir volhoubare strukture wat gemeenskappe dra en versterk.

Wat is diensbaarheid?

Diensbaarheid begin soms eenvoudig met die vraag “Hoe kan ek help?” sonder om iets in ruil te verwag. Dit is om met nederigheid ander se belange bo jou eie te stel en bereid te wees om op te offer, selfs wanneer daar geen krediet, erkenning of guns uit jou dade voortvloei nie.

Ware diensbaarheid vra soms dat jy jou eie gerief prysgee. Dit kan beteken dat jy ‘n gemaklike lewe of ‘n aangename geleentheid misloop. Miskien word jy selfs as vreemd of ongewild beskou oor jou goedhartigheid. Tog, wanneer ‘n mens die groter prentjie van God se liefde verstaan – vir ander én vir jouself – besef jy dat die “skatte” van diensbaarheid ewige waarde dra, soos ons in Matteus 6:19-21 lees.

Wanneer ek na diensbare mense in ons gemeenskappe kyk, kan ek nie anders as om diensbaarheid as ‘n roeping te sien nie. Hierdie mense verstaan iets van God se liefde wat min van ons werklik begryp. Jesus self was die volmaakte voorbeeld van diensbaarheid vir sy dissipels. Hy het dit doelbewus aan hulle geleer, omdat dit nie altyd natuurlik vir ons as mense kom nie. Daarom het Hy gesê: “Die oes is groot, maar die arbeiders is min.”

Soms pas die oes nie in ons skedule nie. Soms val dit buite ons gemaksone, ons vriendekring of die mense met wie ons graag geassosieer wil word. En dan gebeur dit maklik dat ons diensbaarheid daar stop waar ons persoonlike grense begin.

Maar dié wat werklik ‘n impak in hul gemeenskappe maak en help om die “oes” in te bring, is mense wat God se liefde vir ander diep verstaan. Hulle het nie noodwendig alles perfek of uitgesorteer nie, maar hulle stap in geloof – met die vertroue dat God lei en voorsien. Hulle is nie gedrewe deur status of erkenning nie, maar deur ‘n begeerte om God se wil te doen, selfs wanneer dit hulle buite hul gemaksones neem.

Hulle bekommer hulle nie oor die toekoms nie, want hulle weet God is reeds daar. Wanneer hulle teenstand of veroordeling ervaar, bly hulle standvastig. En dikwels beleef hulle wonderwerke, sien deurbrake en ervaar guns op maniere wat slegs deur God se hand moontlik kon wees.

In gemeenskappe waar veiligheid ‘n voortdurende uitdaging is en waar mense self verantwoordelikheid moet neem vir die welsyn van hul omgewing, sien ons hoe diensbaarheid werklik karakter kry. Wanneer maatskaplike probleme in skole opduik, staan gemeenskapslede, maatskaplike werkers, plek-van-veiligheid-ouers en terapeute saam om oplossings te vind – dikwels sonder voldoende ondersteuning of finansiering van die staat of die gemeenskap self.

Wanneer klinieke en hospitale nie die nodige sorg aan pasiënte kan bied nie, spring gemeenskapslede in met hulpbronne. Dokters bied hul kennis en tyd aan om mense by te staan. In dorpe waar geboue en paaie verval omdat munisipaliteite nie fondse verantwoordelik bestuur nie en korrupsie posvat, ontstaan daar inisiatiewe vanuit die gemeenskap self. Organisasies word gestig deur gewone mense wat hul tyd, talente en kundigheid beskikbaar stel om hul dorp te dien.

Diensbaarheid is meestal in die agtergrond. Dit is nie altyd sigbaar nie. Dit is strukture wat stil-stil gebou word deur mense wat bereid is om hul roeping uit te leef – mense wat hul hand opsteek, betrokke raak en doelbewus werk aan volhoubare oplossings. Só word ‘n blywende verskil gemaak – nie met baie woorde nie, maar met getroue dade.

Om as maatskaplike werker aan gemeenskapsontwikkeling te werk, is ‘n nederige en vervullende ervaring. Jy word gekonfronteer met hartseer wat jou hart laat breek – ‘n hartseer wat God se hart weerspieël. Terselfdertyd vind jy weer hoop wanneer jy sien hoe diensbare mense selfloos optree, hoe hulle ongeregtigheid en kwaad uitdryf en met hul geloof in God werke van liefde en verlossing bereik.

Vandag, in die Wil om te Help-maand, wil ek hierdie gedig van Jim Caviezel opdra aan elke diensbare persoon in die gemeenskap – jy weet wie jy is.

Aan jou wat stil-stil dien
Aan jou wat jou tyd, energie en hart gee sonder om erkenning te verwag
Aan jou wat aanhou, selfs wanneer dit voel asof niemand dit raaksien nie

Mag hierdie woorde jou bemoedig om voort te gaan met dit wat jy doen. Want God sien jou. Hy ken jou hart, Hy ken jou opoffering en Hy vergeet nooit die dade wat in liefde gedoen word nie.

Jou naam mag dalk nie hier verskyn
In hierdie saal van roem nie;
Jy mag selfs só onbekend wees
Dat niemand jou naam ken nie.

Die Oscars en die lof van mense
Mag nooit oor jou pad kom nie;
Maar moenie vergeet nie – God het belonings
Wat Hy eendag sal uitdeel.

Hy vergeet nooit.
En in sy eregalery
Is jou naam, deur geloof in sy Seun,
Vir ewig geskryf.

Ek sê vir jou, vriend,
Ek sal nooit my naam – hoe klein ook al – verruil,
Wat daar anderkant die sterre staan,
In daardie hemelse saal,
Vir al die beroemde name op aarde
Of die glorie wat hulle deel nie.

Ek sou liewer hier onbekend wees
En weet my naam is daar bo geskryf.

Diensbaarheid is die kuns om met nederige dade liefde te deel. Dit is die krag wat gemeenskappe bou en God se hart weerspieël. Deur geloof en opoffering kan selfs stil diens ‘n ewige impak hê, selfs al sien niemand anders dit nie.

Artikel geplaas in