DIE LAND VAN DIE DONKER SON

Dis ‘n warm dag in sonnige Suid-Afrika. Die hitte dans vrolik maar tog langsaam oor die gelapte teerpad. Verby kosmos, damme en vlaktes bekruip ons ons bestemming. Die vrou langs my aan die stuur lyk een maar tog so verskillend met die omgewing rondom ons.

Haar vereelte hande op die stuurwiel vertel van eerlike werk in die kombuis, hande wat kan raak vat, pakslae kan uitdeel, maar ook paaseiers kan laat verskyn om vir kleinkinders uit te deel. Hande wat tot die laaste lekseltjie oorbly kos sal bêre. Die nietigste goed sal bly versamel.

Oorlog-gewoontes.

Want aan haar hande loop die are oor bulte van swaarkry. Vertel plooie, vlekke van ou wonde wat aan ‘n siel bly hang en hom laat verouder. ‘n Ou siel, maar mooi. Hard en weerstandig buite, maar sag aan die binnekant.

Dis eers as sy sug, nadink en dan glimlag dat ‘n mens besef dat die seer soms nog kan opbou en om ‘n ou hart en siel kan vou. Dat sy ook nog soms moet spook om te vergewe, te vergeet.  Soos die pad stadig verby vlieg, begin sy vertel:

Ek was klein, vyf jaar oud toe ons Nederland verlaat het. Europa was platgeslaan. Niks het oorgebly nie. Behalwe dalk flenters mense wat elke dag moes aanpak met ‘n besluit om ‘n nuwe lewe te begin. Ten spyte van wat hulle alreeds verloor het. Ek onthou nie veel van Nederland nie. Net van ‘n klein stukkie plaas, bietjie hoenders en my pa wat in die aande huis toe kom. Daar was ‘n keer toe hulle naby ons geveg het. Ons kon die bomme hoor en het vreesbevange skuiling gesoek. My ma het ons weggebêre, toegesluit van die gevare daarbuite. Ons het min verstaan van die ontworteling en oorplant na Suid-Afrika.

Eers later het ek verstaan, dat die Nederlandse regering die mense aangemoedig het om te gaan. Hulle was polities en ekonomies op hulle knieë en die werkloosheidsyfer het soos ‘n swaar rots op die skouers van die land gerus. Australië, Kanada, Amerika en sonnige Suid-Afrika was ‘n uitkoms vir baie. Visas is maklik toegestaan, met die enigste voorvereiste dat jy alreeds ‘n moontlike werk in die buiteland moes hê.

My pa was baie slim en ‘n man uit die verre Suid-Afrika het hom ‘n pos aangebied. Sy eie winkel buite Vryburg!  Dat die Noord-Kaapse dorpie in ‘n ou swart stat was, het my ouers nie geweet nie. Selfs al sou hulle, glo ek nie dit sou ‘n verskil gemaak het nie. Suid-Afrika met sy son en vlaktes was ‘n uitkoms!

So het dit gebeur dat ‘n klompie spierwit, blonde, desperate en dapper Hollanders met ‘n handjievol besittings op ‘n waggelende skip beland het. Ons was arm toe ons in Stella aankom, maar die Here het altyd voorsien vir kos op ons tafel. Dit het egter beteken dat ons nie ‘n kar besit het nie. My ma kon gereeld gesien word waar sy vrolik deur die strate ry met die inkopies en kinders op die agterkant van haar fiets.

Sy lag, maar dan versomber haar verbleikte blou oë.

Die naaste goeie skool was kilometers ver. ‘n Kar het ons nie gehad nie en van tuis-skoling is nie gehoor nie. So is ek op ‘n ses-jarige ouderdom koshuis toe. Ek kon nie die taal praat nie. Ek was die jongste en daar was geen ma naby om my te troos nie. Dit was bitter, bitter onregverdig.

Reeds met die intrapslag was my naam gegraveer in die swart boek. My lomp hande kon nie die aartappels in die kunswerke soos die van matrone verander nie. As ons deur gange gestap het kon jy die gesis en gemompel hoor. “Kaaskoppe”, het dit oral om my weergalm. Dit was hel – my bed sopnat elke oggend. Ek het gehuil. Doodskaam het die trane van vernedering, verwerping en pyn oor my dogtertjie-wange geloop.

Vandag vertel net die regop skouers en reguit houding van haar swaarkry en haar geveg.

So het dit elke oggend gegaan. Dit was eers toe my suster besef wat aan die gang was dat sy haar oor my ontferm het. Sy het soggens vroeg uit haar kamer geglip en my beddegoed vinnig kom ruil, voor die matrone sou sien.

Skool was aaklig. Omdat ek nie die taal verstaan het nie was alles bloot Grieks. Eers baie later in my lewe was daar ‘n gawe juffrou wat my aanbeveel het om te lees. O! Wat ‘n skuiling het ek nie gevind in leesboeke nie! Agter die skans van boeke en woorde het ek weggekruip en pouses was die biblioteek my reddingstasie.

Dit is ‘n ruk doodstil. Dan sê sy egter sag, asof nadenkend.

Ek het elke naweek gekyk na die kinders wat huis toe gaan en hulle beny. Ek die motor agterna gestaar waaruit my ouer, gewilde suster vrolik gewuif het en dan verbitterd omgedraai. Niemand wou my oplaai nie. Ek het my ma vier keer daardie jaar gesien.

Ons het die afdraai na ons bestemming gemis. Sy skud haar kop stadig toe sy dit besef.

Dit was eers toe my jongste boetie ook skool toe moes gaan dat my pa besef het dit is belaglik dat ons so jonk moes koshuis toe. Ons het toe getrek.

Sy knip-oog gemaak vrolik.

Ek was die beste in my graad met springtou. Ons het naweke gaan swem in die munisipale swembad en op dertien-jarige ouderdom kon die lewe nie beter wees nie. My pa se besigheid het floreer en ek het maats gemaak.

En dan, asof net nog ʼn deel van die storie…

Een aand laat het iemand kom sê dat my pa geskiet is. Die moordenaar was‘n jaloerse kollega.

My pa. Oorlede. Begrawe in die klipharde grond van sonnige, pikswart Suid-Afrika. Iets was dodelik verkeerd.

Van daar af moes ons veg om oorlewing. My oudste suster moes skool verlaat en gaan werk. Ek het matriek geslaag en ‘n tandarts-assistent geword – drome van ‘n onderwysdiploma aan skerwe.

Toe Vryburg se bordjie in sig kom, loop my ouma die laaste paadjie terug na haar jong siel.

My ma was ‘n voorbeeld vir ons almal. Sy het my pa se moordenaar vergewe.

Selah.