Die tannie dra swaar aan haar pakkies terwyl sy oor die voetoorgang stap. Die jare het haar swaar getref en sy sukkel om op die hoë sypaadjie te klim. Ek sien sy gaan val, hardloop nader, vat die pakkies en bied my arm aan. “Dankie, baie dankie,” sê sy verleë. Sy vra waar die naaste busstop is. Ek wys haar en stap saam tot daar. “My naam is Marthie, tannie. Veilig wees.” Ek kyk dat sy veilig in die bus klim.
Hierdie eenvoudige toneel wys die verskil tussen hulp en hande vat. In When Helping Hurts verduidelik Steve Corbett dat hulp, al is dit goed bedoel, soms meer skade as goed kan doen. Hulp kan afhanklikheid skep, menswaardigheid ondermyn en dieper probleme vermy. ’n Voorbeeld is wanneer ’n trok kos aflewer sonder om die gemeenskap te bemagtig. Dit is korttermynhulp[Editor1] .
Hande vat is anders. Dit vra tyd, betrokkenheid en die bereidwilligheid om saam te werk. Jy deel die proses, versterk selfstandigheid en gee menswaardigheid terug. In maatskaplike werk en gemeenskapsontwikkeling beteken dit om nie net te gee nie, maar saam te bou. Dit pas perfek by Helpende Hand se 2026-tema van werksyn: Jy werk saam. Jy vat hande. Jy help ander se laste dra.
Hulp het sy plek – dit verlig nood en bring korttermynverligting. Maar hande vat is ‘n langtermynoplossing; dit is die +1 wat dieper lê. Dit laat transformasie plaasvind en maak gemeenskappe sterker.
Een van Wil: Ons kies saam om verandering te bring.
Een van Hart: Ons maak ons harte oop en dra mekaar se laste.
Een Gemeenskap – Ons bou saam aan ’n toekoms vir ons en ons nageslag.
Wanneer ons hande vat, leef ons hierdie boodskap uit. Ons bied nie net hulp aan nie, maar bou saam aan hoop en volhoubare verandering.