Skip to content

Die Vrystaat-streek se sewe perfekte projekte van sewe takke

Die Vrystaat-streek het die afgelope tyd sewe projekte geloods. Die doel van die projekte was om gemeenskappe vaardighede aan te leer, bejaardes en kinders te bederf en ook om die gemeenskap vry en gesond te kry.

Kroonstad Helpende Hand-tak het die inisiatief geneem om kreatiewe handvaardighede by Huis Eden aan te bied. Die inwoners van Huis Eden is geleer hoe om verskeie artikels te vervaardig en dan weer te verkoop..

Die impak van hierdie geleentheid bied op elkeen wat betrokke is, is ongelooflik.  Die tak is gereeld betrokke by uitstallings om bg. produkte blootstelling te gee en verkoopsgeleenthede te bevorder. Tydens verskeie uitstallings sit die dames en hekel en heelwat dogters of belangstellendes kom leer dan die tegnieke aan.  As gevolg van die tak se betrokkenheid by hierdie groep mense het  Bernina bewus daarvan geraak en R40 000 se voorraad, naaimasjiene, omkapmasjiene en stoomysters aan die projek geskenk. Die projek sal baie by die skenking baat aangesien hulle nie oor die fondse beskik het om dit self aan te koop nie.

Kroonstad (3) Kroonstad (2) Kroonstad (1)

Harrismith Helpende Hand-tak was deel van die gemeenskap se jaarlikse Bergwedloop-geleentheid en verantwoordelik vir die kindervermaak. ‘n Treintjie is spesiaal gebou en ‘n springkasteel het deel uitgemaak van die vermaak. Die doel van die dag was om die gemeenskap bewus te maak van Helpende Hand se bedrywighede in die gemeenskap.

Harrismith (1)

Harrismith (4)

Helpende Hand Ladybrand-tak het die personeel van Ladybrand Hoërskool op 23 September bederf met kolwyntjies om dankie te sê vir elke onderwyser se wonderlike diens aan elke kind. Elke kolwyntjie was versier met Helpende Hand se handjie op.  Dit het groot impak op elke onderwyser gemaak.

Ladybrand Onderwys dag

Helpende Hand Orania-tak het die inisiatief geneem en op Vrydag, 21 Augustus, 210 van die inwoners bederf met ’n groot funksie. Die tema van die dag was “’n Beter jy”. Die doel was om terug te ploeg in die mense wat nie altyd hierdie voorregte het nie. Praatjies is aangebied oor gesonde eetgewoontes en mooimaak wenke. Baie pryse is deur gelukkige trekkings uitgedeel. Maud Kemp van Krugersdorp was die hoofspreker en sy het gepraat oor die invloed van positiewe denke op die brein en liggaam. ’n Volledige noodhulphouer vol medikasie is aan die suster op Orania oorhandig wat gereeld na die bejaardes omsien. Dit was ’n suksesvolle en dinamiese geleentheid met groot impak!

Orania (1)

Helpende Hand Bethlehem-tak is reeds die afgelope vier jaar intens by Christenburg, buite die dorp, betrokke.  Daar is reeds 15 werkskeppingsprojekte begin, ʼn volledige biblioteek is ingerig wat ook dien as gemeenskapsentrum waar maatskaplike dienste gelewer word.  Die kinders geniet prioriteit en buiten vir die hulp en ondersteuning om die kinders te bemagtig, het die tak besluit om aanbouings aan die wooneenhede aan te bring.  Dit verseker dat die ouer kinders hul eie kamer kan hê.  Van die ouers het nog nooit hul eie kamer gehad nie en het as een gesin in een kamer gebly.

Bethlehem (3)

Die Hennenman-tak hou reeds die afgelope paar jaar ’n spesifieke fondsinsameling om behoeftige gr. 6’e se buitelugskool te help befonds.  Kostes per kind beloop R600. Die projek behels dat die vorige graad 7-buitelugleerlinge die tak behulpsaam is met die projek en dan aan die graad 6’e die fondse oorhandig.   Uit die takfondse is genoeg lekkers en sosatiestokkies aangekoop om 300 lekkergoedsosaties te maak.  Op 23 September het die graad 7’s die sosaties gebou en dit teen R10 stuk by die skool verkoop.  R3 100 is ingesamel en 5 leerlinge se kostes kan daarmee volledig gedek word.

Hennenman (2)

Aliwal-Noord Helpende Hand-tak het op Saterdag, 26 September, tien bejaardes na die Curriebeker-rugbywedstryd tussen die Cheetahs en Goue Leeus op die Vrystaat Stadion in Bloemfontein geneem. Die geleentheid vorm deel van Helpende Hand se nasionale Bejaarde-projek, “Neem ’n oupa rugby toe”.  Tien oupas het reeds Saterdag vroeg uit Aliwal-Noord na Bloemfontein vertrek en die opgewondenheid was reeds groot. Elkeen het by die OK ’n sak as geskenk gekry.  Met hul aankoms in Bloemfontein het taklede ’n smullekker worsie gebraai.  Elke oupa is bederf met ’n geskenksak asook ’n verversingspakkie wat hulle tydens die wedstryd kon geniet.

Aliwal-Noord (1)