Dané Kotze, senior streeks- maatskaplike werker: Sentraal-Wes-Kaap
Die rykste hulpbronne van enige gemeenskap lê in mense. Elke straat, buurt en dorp is vol vaardighede, ervaring en verhale: ‘n ouma wat ‘n feesmaal kan voorberei en die resepte met wenke deel met jonger generasies; ‘n jongmens wat tegnologie verstaan; ‘n tannie wat lekker tee maak en regtig kan luister. Hierdie gawes lyk alledaags, maar saam vorm dit ‘n kragtige netwerk van vermoëns.
Gemeenskapsontwikkeling begin nie by tekortkominge nie, maar by wat reeds teenwoordig is. Wanneer mense hul eie waarde raaksien, beweeg hulle van ontvangers van hulp na draers van hoop. Mense floreer emosioneel en geestelik wanneer hulle voel hulle maak saak en is deel van iets groter. Om diensbaar te wees, versterk verbondenheid, gee betekenis en só word gemeenskappe gesond.
Diensbaarheid word meer as ‘n aksie; dit word ‘n leefwyse. ‘n Oupa wat jongmense leer bou, besighede wat mentorskap bied, jeuggroepe wat projekte aanpak, skole of kerke wat ‘n saal beskikbaar stel of iemand wat kinders help lees – dit alles bou ‘n geborge, kultuurryke gemeenskap wat na mekaar omsien.
Hieruit groei werksyn: die wete dat my optrede waarde het. By Solidariteit Helpende Hand sien ons dit daagliks: of jy formeel werk of vrywillig dien, jy vind betekenis as jy lig bring in ander se lewens.
Verhoudings tussen skole, kerke, organisasies, families en vriende bou brûe waardeur ondersteuning natuurlik vloei. Wanneer ons vra: “Wat het ons?” ontdek ons hoe baie ons het. Ware rykdom lê in mense se hande, harte en verhoudings.