Doen jy vryskutwerk? Wen groot pryse!

Besit jy ʼn vryskutbesigheid? Wil jy jou besigheid bemark en ʼn goeie inkomste daaruit verdien? Talentwerf wil vir jou ʼn bemarkingsplan ter waarde van R30 000 gee om jou besigheid op die been te bring.

Die publiek kan vanaf 1 Julie 2018 inskryf vir ons Bemark jouself!-kompetisie en die kans staan om groot pryse te wen. Die doel van die kompetisie is om bewusmaking vir die beroep en vir talentvolle vryskutters te skep. Die wenner sal ʼn bemarkingsplan ter waarde van R30 000 wen wat onder andere sal fokus op die vryskutter se korporatiewe identiteit, ’n sosiale media-plan en ʼn onderhoud met Maroela Media.

Vryskutters word gevra om hulleself in ʼn kort video te bemark en dit dan op sosiale media te deel. Die beste video’s sal deur Talentwerf op verskeie sosiale media platforms gedeel word en die publiek sal dan gevra word om vir hulle gunstelingvideo te stem. Kry dus jou vriende om jou video te deel en jou só te help om jouself te bemark.

Hoe skryf jy in?

  • Maak ʼn video van minder as 1-minuut waarin jy jou besigheid beskryf en terugverwys na www.talentwerf.co.za waar jou besigheidsprofiel geregistreer is. Wees kreatief, kry ʼn vriend om jou te help en maak dit oulik!
  • Plaas jou video op jou sosiale media platforms en vra jou vriende om dit te deel.
  • Stuur ʼn e-pos met die skakels van waar jou video geplaas is aan [email protected]
  • Die beste video’s sal op ons sosiale media platforms gedeel word en ons sal die publiek vra om vir hulle gunsteling te stem.
  • Daarna sal die wenner gekies word en die groot prys ontvang (sien onder wat die prys is)!
  • Sluitingsdatum vir die inskryf van video’s: 21 Julie 2018

Wat is op die spel?

  • Die korporatiewe identiteit van jou besigheid sal hersien en professioneel herontwerp word.
  • Daar sal in Augustus en September ʼn sosiale media- en ʼn bemarkingsplan ter waarde van R30 000 vir jou besigheid deur ons professionele bemarkingspan uitgerol word.
  • Die wenner sal ook ʼn onderhoud met Maroela Media voer om hulle besigheid ten toon te stel en banieradvertensies sal op Maroela Media se webblad vertoon word.

Talentwerf is ʼn inisiatief van Solidariteit Helpende Hand. Dit is ʼn platform wat aanlyn vir vryskutters die geleentheid gee om hulle werk ten toon te stel vir potensiële projekte waar hulle talente gebruik kan word. Talentwerf is ʼn platform wat ontwikkel is om vryskutters en besighede bymekaar te bring. ʼn Vryskutter is ʼn persoon wat selfstandig werk en nie noodwendig aan ʼn bepaalde werkgewer op die langtermyn verbind is nie.

Vir meer inligting kontak René du Preez by [email protected]