Esidimeni: Helpende Hand versoek dat gewese LUR gedagvaar word om te getuig

Solidariteit Helpende Hand wil hê die gewese Gautengse LUR vir gesondheid, Qedani Mahlangu, moet in die arbitrasieverhoor oor die onnodige sterftes van tientalle gestremdes kom getuig. Helpende Hand is van mening dat sy die arbitrasieproses moet bywoon om verantwoording te doen vir die gevolge van onoordeelkundige besluite. Die gewese LUR het in Februarie 2017 bedank nadat die omvang van die sterftes bekend geword het.

Die arbitrasieverhoor is reeds in sy derde week, maar Mahlangu het steeds nie getuig nie.

Helpende Hand het toestemming by die arbiter, oudregter Moseneke, en die ander regspartye gekry om kontak met Mahlangu te maak. Hul regsverteenwoordigers gaan nou poog om ’n getuiedagvaarding uit te reik om Mahlangu te dwing om te kom getuig. Sy is tans in die Verenigde Koninkryk waar sy studeer en was tot dusver nie vir kommentaar beskikbaar nie.

Die regsverteenwoordigers van die families van pasiënte wat gesterf het, dring almal daarop aan dat Mahlangu gedagvaar word om te getuig. Helpende Hand steun die gedagte ten volle en het ʼn petisie begin om die nasionale vervolgingsgesag te vra om haar te vervolg.

“Dit is egter baie beter as Mahlangu vrywillig by die arbitrasieproses kom getuig,” sê dr. Danie Brink, uitvoerende direkteur van Helpende Hand. “Ons wil dit vir haar duidelik maak dat Suid-Afrikaners, en veral die families van die afgestorwe pasiënte, van haar wil hoor. Dit is in die nasionale belang dat sy kom verduidelik waarom sy die besluit geneem het om die pasiënte te skuif.”

Volgens die ombudsman, Malegapuru Makgoba, se verslag wat in Februarie 2017 vrygestel is, is die onbevoegdheid van almal wat by die projek betrokke was die hoofrede vir die sterftes. Dit het onlangs bekend geword dat daar nie net 94 pasiënte dood is nie, maar 141 pasiënte wat gesterwe het as gevolg van Mahlangu se besluit om hulle te skuif.

Volgens Brink is hierdie pasiënte die weerloosstes van die weerloses. “Die lot van die gestremdes, wat op geen manier vir hul eie regte kan opstaan nie, het ons aan die hart gegryp en nadat ons regsadvies ingewin het, het ons met die petisie begin. Helpende Hand wil die publiek aanmoedig om die petisie te steun sodat ons kan seker maak die gewese LUR ry aan die pen vir haar swak besluite.”

Helpende Hand nooi die publiek om die arbitrasieproses te ondersteun en om die petisie te teken. Klik hier of stuur ʼn e-pos aan [email protected].