Esidimeni-tragedie lei tot ADR-proses

Alternatiewe geskilbeslegtingproses (ADR-proses) vir Esidimeni-tragedie se datums vasgestel. Sperdatum vir families om aansoek te doen nader vinnig.

Solidariteit Helpende Hand is nou amptelik deel van die ADR-proses en beoog om families en gevalle wat nie deur die Ombudsman se verslag oor die tragedie geken is nie, maar wat skade of verlies gely het, ook deel daarvan te maak. Die organisasie verenig ook ʼn familie wat tydens die Esidimeni-krisis kontak verloor het.

Die minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, het in konsultasie met Solidariteit Helpende Hand verlof toegestaan om geaffekteerde gesinne wat nie deur die Ombudsman se verslag of ondersoekproses geken is nie, by die ADR-proses vir die omstrede Esidimeni-tragedie in te sluit. Solidariteit Helpende Hand se regsverteenwoordigers sal van die pasiënte wat deur die tragedie geraak is, verteenwoordig, en lig werp op die gesinne wat nie ingesluit is nie.

Dit volg op die departement van gesondheid se omstrede besluit om pasiënte wat in Life Esidimeni se sorg was, oor te plaas na nie-regeringsorganisasies en die resulterende sterftes wat daarop gevolg het, sowel as die impak wat dit op ander pasiënte en NGO’s gehad het.

Die datum van die ADR-proses is vasgestel vir 2-20 Oktober 2017. Afgetrede adjunk-hoofregter Moseneke is aangestel om die proses te oorsien. Om seker te maak dat al die families van die afgestorwe pasiënte bewus is van die proses, het Helpende Hand besluit om ʼn perskonferensie te hou om die publiek bewus te maak van die proses en die sperdatum van 28 Augustus.

Kriteria vir aansoeke sal tydens die mediakonferensie bekendgemaak word.

Tydens die konferensie sal Helpende Hand ook ʼn roerende verhaal met almal deel. Dit  handel oor ʼn broer en suster wat hierdie week deur Helpende Hand verenig is nadat Helpende Hand ondersoek na die beweerde dood van die broer ingestel het as deel van die groter ondersoek na sistemiese kwessies van die Esidimeni-krisis. Die suster sal ook haar storie op die paneel vertel.

Volgens Helpende Hand se regskenners sal dit die laaste geleentheid wees om vergoeding te ontvang vir verliese gely.

Indien u, of iemand wat u van weet geraak is deur die tragedie, vra ons dat u ons asseblief so gou as moontlik kontak. Stuur ‘n e-pos na [email protected] of kontak ons op 012 644 4390.