Esidimeni-tragedie: Die departement maak gereed om verskoning te vra

Alternatiewe geskilbeslegtingproses (ADR-proses) vir Esidimeni-tragedie se fokus strek veel wyer as oorspronklik gedink

 

Solidariteit Helpende Hand is nou amptelik deel van die ADR-proses en beoog om families en gevalle wat nie deur die Ombudsman se verslag oor die tragedie geken is nie, maar wat skade of verlies gely het, ook deel daarvan te maak.

 

Die minister van gesondheid, dr. Aaron Motsoaledi, het in konsultasie met Helpende Hand verlof toegestaan om geaffekteerde gesinne wat nie deur die Ombudsman se verslag of ondersoekproses geken is nie, by die ADR-proses vir die omstrede Esidimeni-tragedie in te sluit. Solidariteit Helpende Hand se regsverteenwoordigers sal van die pasiënte wat deur die tragedie geraak is, verteenwoordig, en lig werp op die gesinne wat nie ingesluit is nie.

 

Dit volg op die departement van gesondheid se omstrede besluit om pasiënte wat in Life Esidimeni se sorg was, oor te plaas na nie-regeringsorganisasies en die resulterende sterftes wat daarop gevolg het, sowel as die impak wat dit op ander pasiënte en NGO’s gehad het.

 

Die datum van die ADR-proses is vasgestel vir 2 tot 20 Oktober 2017. Afgetrede adjunk-hoofregter Moseneke is aangestel om toesig te hou oor die proses. Om seker te maak dat al die families van die afgestorwe pasiënte bewus is van die proses, het Helpende Hand besluit om ʼn perskonferensie te hou om die publiek bewus te maak van die proses en die sperdatum van 25 Augustus.

 

Kriteria vir aansoeke sluit in:

  • pasiënte wat verskuif is, maar gesterf het;
  • pasiënte wat verskuif is, maar oorleef het;
  • families van pasiënte.

 

Helpende Hand beplan om in die komende weke ’n steekproef deur sy 170 takke te doen om die standaard van versorging van die land se gestremdes na te vors. Die verslag sal dan voor die ADR-proses bekendgestel word.

 

Volgens dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van Helpende Hand, is dit die organisasie se plig om toe te sien dat die voorstelle wat in die Ombudsman se verslag is, uitgevoer word. Brink se wens is dat “ʼn mens nooit weer gedwing moet word om tot sulke drastiese stappe oor te gaan om versorging van gestremdes te verseker nie.”

 

Indien u of iemand naby u inligting het, kontak asseblief vir Helpende Hand op 012 644 4390 of stuur ’n e-pos na [email protected].