Skip to content

Helpende Hand pak veldtog aan om armoede met finansiële vernuf te verbreek

Banier-vir-webtuiste

Solidariteit Helpende Hand het ’n veldtog van stapel gestuur om armoede met finansiële kundigheid hok te slaan.

Hannes Noëth, besturende direkteur van Helpende Hand, het tydens ’n mediakonferensie in Centurion gesê dié welsynsorganisasie se hoofdoel is om armoede te verlig, verbreek en voorkom.

“Die rentevrye studielenings wat Helpende Hand jaarliks verskaf aan behoeftige studente wat verder wil studeer maar nie finansieel daartoe in staat is nie, beloop tans R38 miljoen en dra by tot die voorkoming van armoede,” het Noëth gesê.

Volgens Noëth hou Helpende Hand se nagenoeg 160 takke landwyd deurlopend verskeie projekte om armoede te verlig. “Tog is dit noodsaaklik dat Helpende Hand ook die kwessie van verbreking van armoede daadwerklik aanspreek. Vir dié rede het Helpende Hand hande gevat met twee finansiële ghoeroes, Ronel Jooste en Lukas Coetsee, om met die hulp van hul kennis armoede te verbreek,” het hy gesê.

Jooste is ’n CA(SA), finansiële konsultant, spreker en outeur. Sy gaan onder meer poog om mense meer finansieel  touwys te maak en behoorlik te begroot.

“Ons almal probeer om armoede te verlig deur kos, klere en verblyf te verskaf, maar die vraag is spreek ons regtig die onderliggende probleem daarmee aan. Ons maak daardie persoon se situasie bietjie beter, maar ons moet soms dieper delf en vra hoe kry ons daardie persoon heeltemal uit daardie situasie. Hoe help ons daardie persoon om self ’n bord kos te kan bekostig?” het Jooste gesê.

Volgens Jooste is een van die grootste oorsake van armoede ’n gebrek aan finansiële kennis. “Ons leer nie van finansies op skool, universiteit of by ons ouers nie. Dit is wat ons met dié veldtog vanjaar wil aanspreek. Ons wil mense toerus met die nodige kennis om hul geld beter te bestuur en beter finansiële besluite te neem,” het sy gesê.

“My boek Financially Fit and Wealthy is pas gepubliseer. Saam met Helpende Hand gaan ons vanjaar ’n mini-geldgids, wat op my boek gebaseer is, aan gemeenskappe landwyd versprei. Ons wil mense toerus met iets tasbaars wat hulle huis toe kan vat en gereeld na kan terugverwys wanneer hulle finansiële besluite moet maak. Ek tree gereeld op as spreker en met behulp van opleiding, die mini-geldgids en aanlyn kursusse wil ons ’n daadwerklike verskil maak in arm gemeenskappe en só ook die middelklas bemagtig,” het sy bygevoeg.

Coetsee is die besturende direkteur van Entrepreneurs Wizard wat entrepreneurskap in Suid-Afrika bevorder en aanmoedig. Hy help opkomende entrepreneurs met die ontwikkeling van idees, die implementering daarvan en ondersteuning.

“Entrepreneurs Wizard gaan in samewerking met Helpende Hand twee kursusse aanbied vir opkomende entrepreneurs, wat hulle aanlyn kan voltooi. Die een kursus is gemik op toetreders tot die mark wat ’n klein onderneming wil begin met beperkte kapitaal, en die ander ’n meer gevorderde kursus vir die bou van ’n intensiewe besigheid – hopelik iets wat in ’n latere stadium op die aandelebeurs gelys kan word, plaaslik en in ander lande. Laasgenoemde is ideaal vir ’n jongmens wat onseker is wat om te studeer of ’n afgestudeerde persoon met blink planne vir besigheid,” het Coetsee gesê.

Coetsee het verduidelik die klem van hierdie kursusse is op die praktiese en unieke Suid-Afrikaanse konteks. Vir Helpende Hand studente word die kursus ook in Afrikaans aangebied. Die kort kursus duur 14 weke en die omvattende kursus 34 weke.

Na afloop van die studies word ’n  student ook bygestaan met die vestiging van ’n besigheid en die begeleiding wat daarvoor nodig is.

“Die waarde van hierdie tipe kennis en kundigheid is onskatbaar en word gesien as ’n ewigheidsleer. As ons een persoon kan help, help ons inderwaarheid ’n hele gemeenskap,” het Coetsee bygevoeg.

Volgens Noëth is Helpende Hand se bedoeling met hierdie veldtog om mense te leer werk met wat hulle het en om hulle te leer om wat hulle het, te ontwikkel.

“Eenvoudiger gestel wil ons ons mense leer om rentmeesters (bestuurders) te wees van wat ons het en wat ons kan bereik. Ons hoop is dat hierdie veldtog, wat deur al ons takke in al die streke uitgevoer gaan word, stukkie vir stukkie ’n wesenlike verskil in die land kan maak,” het Noëth afgesluit.