Fondsinsameling is nie bedel nie

In vandag se tyd is dit nie kinderspeletjies om ’n skool aan die gang te hou nie. Skole se uitvoerende bestuur moet behoorlik kopkrap om met die toenemende ekonomiese druk die skool se deure oop te hou. Daarom het Solidariteit Helpende Hand se Skoleondersteuningsentrum (SOS) besluit om skole op te lei oor hoe om ’n effektiewe fondsinsameling te hou.

Die SOS het vir Chris Windell, ’n kenner op die gebied van fondsinsameling, genader om die hoofde van top Afrikaanse skole in Gauteng by ’n glansontbyt in Centurion toe te spreek. Windell werk al jare by die Departement Bemarking en Kommunikasie van Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus.

Volgens Windell is fondswerwing meer as ’n besigheid en is dit eerder ’n wetenskap en ook die hoogste vorm van bemarking. “Fondswerwing gaan gepaard met beplanning, entoesiasme en eerlikheid,” sê Windell. “Die belangrikste is om te onthou dat “fundraising” sinoniem moet wees met “friend-raising”.  Vriendwerwing gaan daaroor om ’n verhouding op te bou met instansies wat ’n passie vir jou skool het. En ’n mens moet nooit moed opgee nie. As iemand vanjaar nee sê, gaan volgende jaar terug.”

Volgens Hugo Vermeulen, hoof van die SOS, is baie skole afhanklik van fondsinsamelings om hul operasionele koste te dek. “Die meeste ouers wil die aapstuipe kry as hul kind by die huis kom met ’n lys vir geldinsameling,” sê Vermeulen.  “Maar fondsinsameling gaan veel verder as om lysies huis toe te stuur. Tydens hierdie ontbyt is skoolhoofde aangeraai om slimmer te werk te gaan om in hierdie uitdagende tydsgewrig hul fondse te beskerm en aan te vul.”

Die SOS het onderneem om meer skole hierin op te lei en beplan ’n volledige werkswinkel oor fondswerwing, spesifiek vir Afrikaanse skoolgemeenskappe.

 

Die SOS het ook van die ontbytgeleentheid met Gautengse skoolhoofde gebruik gemaak om die skole wat op die SOS se lys van Top 20 Afrikaanse skole in Wiskunde en Afrikaans Huistaal (volgens die aantal onderskeidings tydens die 2016-matriekeksamen van die ministerie vir onderwys) was, te vereer met ’n ere-toekenning vir hul uitmuntende prestasie.

Die SOS bied ook later vanjaar twee nasionale onderwyskongresse aan, op 28 en 29 Junie in Centurion en 3 en 4 Julie in Bellville.  Vir meer inligting oor die kongres, besoek www.skoolwiskunde.co.za of stuur ’n epos na [email protected].