FroueVonds se eerste verjaarsdag: Nuwe tree en groot oorwinnings

Die FroueVonds bekendstelling , verlede jaar tydens Vrouemaand

Rolspelers en vroue wat tydens die bekendstelling van die FroueVonds vereer is. Voor is Skyler Kleynhans, jong akteur, en René Roux, adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie by Solidariteit Helpende Hand. Agter is Sonet Liebenberg, ’n behoeftige student en ma, Esna Colyn, uitvoerende hoof van Placècol, Alana Bailey, adjunk- uitvoerende hoof van AfriForum, Sannie van Zyl, bejaarde rolspeler, Hannes Noëth, uitvoerende hoof van Helpende Hand, dr. Rina Venter, maatskaplike werker en eerste vrou in die Suid-Afrikaanse geskiedenis met ’n pos in die kabinet, en Benette Rautenbach, die FroueVonds se projekkoördineerder. (Foto: Roelien Malan/WorthIt Photography)

Op 22 Augustus 2019 is Helpende Hand se heel eerste FroueVonds gestig. Ja, jy het reg gelees. Ons spel dit met opset verkeerd om aan te sluit by die leuse van die fonds “want alles loop nie altyd reg nie.” Dit is ook die rede waarom ons hierdie fonds gestig het. Ons het al hoe meer besef hoeveel meisies en vroue daar is wat nie uit die perfekte omstandighede kom nie, nie die regte geleenthede gehad het nie en nie die regte besluite geneem het nie. Ons het geweet ons móét ingryp! Ons het hierdie reusetaak en roeping met beide hande aangegryp; onseker, maar met vertroue in die Een wat ons roep. So het daar, in die eerste maand van die FroueVonds se bestaan, R608 500 se studiefondse, produkskenkings en finansiële skenkings ingestroom.

Hierdie skenking het bestaan uit R307 000 se opleidingsbeurse van Imbalie Beauty opleidingsakademie, Serwalo-haarakademie en die Susca Watts Akademie.

’n Skenking van skoene ter waarde van R180 000 is ontvang waarmee ons vir vroue en meisies die geleentheid kon bied om nie net spreekwoordelike nuwe skoene aan te trek nie.

Die totale finansiële bydraes van R103 500 was reeds genoeg om byna 2 versendings van die #HelpHetta-projek vir 2020 moontlik te maak. So is daar ook vooruit voorsien vir  ’n ongelooflike uitdagende 2020, sonder dat ons eers geweet het wat die omstandighede van die jaar sou wees.

Ons ontvang sommer op die aand ’n gratis advertensie in die Bruidsgids, wat in die daaropvolgende jaar duisende bruide bewus maak van die FroueVonds.

Die maande wat gevolg het, was geen uitsondering nie. ’n Dryf saam met die Placecol-salongroep het ons voorsien van genoeg produkte vir 1 totale #HelpHetta-versending. Susan Coetzer het skilderye geskenk, waarvan 1 verkoop is teen R20 000. Demi Lee Moore het 2 van haar prag-aandrokke geskenk waarvan 1 verkoop is vir R 11 000. Die ander rok, het ’n meisie se matriekafskeid droom bewaarheid. Uit hierdie inisiatief is die Droomrokke-projek gebore, wat meisies uitrus met ’n droomrok vir hul dinee, troue of matriekafskeid ten spyte van die feit dat hulle nie ’n nuwe rok kan bekostig nie.

Verskeie sterk vroue vat hande met die FroueVonds deur oor bemoedigende temas te skryf, wat weer ons vroue inspireer om in verskeie aspekte van hul lewe die eerste tree te neem.

Die lysie gaan aan en aan. Na een jaar van baie lag, baie huil, baie onsekerheid en ook baie tree in die regte rigting, staan ons op 22 Augustus 2020 met ’n totale koste ter waarde van R3 051 190 in die vorm van produkskenkings, opleidingsbeurse, finansiële skenkings en mediadekking.

Natuurlik was bitter min hiervan moontlik sonder die getroue ondersteuning en samewerking van ’n reeks vennote wat saam met ons waag. Ons salueer elkeen van hulle vir hul vertroue in dít wat ons aanpak.

Die twee woorde wat die eerste bestaansjaar van die FroueVonds opsom is: oorweldig en in verwondering. Ons staan elke keer in verwondering oor die Here se seën en oor die deure wat Hy keer op keer vir ons oopmaak. Wanneer ons onsself vasloop het in ’n doodloopstraat, wys Hy elke keer die nuwe pad uit. Wanneer nuwe probleme en vraagstukke opduik, gee Hy getrou weer die antwoorde vir ons.

So saam met die eerste verjaarsdag van die FroueVonds, neem ons weer ’n groot tree en waag ons groot. In samewerking met Finesse Goedvoel-tydskrif, Carpe Diem Media en die alombekende Lynette Beer, bring ons ’n FroueVonds-dagboek uit vir 2021! Die wins uit die verkoop van hierdie dagboeke, sal spesifiek aangewend word om rentevrye studielenings aan behoeftige damesstudente te verskaf vir kort kursusse in skoonheidsterapie by Imbalie Beauty opleidingsakademie.

Ondersteun ons om in hierdie nuwe waagstuk ook oorwinning te behaal. Vir ’n pragtige FroueVonds-dagboek vir 2021, met daaglikse inspirasie van Lynette Beer, besoek gerus ons webwerf by www.frouevonds.co.za. Koop sommer ook vir al jou vriendinne, kollegas en die geliefde vroue in jou lewe een. Vir jou is dit net ’n dagboek, maar vir die FroueVonds is dit ’n sleutel in die hand om weer te waag en ’n deur tot ’n beter toekoms vir iemand anders oop te sluit. Dankie dat jy saam met ons waag.