Gee om, gee aan…

In Spreuke 18:21 lees ek vanoggend weer: “Dood en lewe is in die mag van die tong en elkeen wat dit graag gebruik, sal die vrugte daarvan eet.”

Om vir ander om te gee, is iets wat die meeste van ons met relatief min moeite regkry.  Ek besef dat dit makliker is om vir mense naby aan my om te gee.  Om vir mense om te gee wat nie in my binnekring is nie, kom moeiliker. Dis egter nie onmoontlik nie.

Maar wat van AANGEE? 

In ons land vandag is “aangee” dikwels minder maklik; om te oorleef het in vele opsigte ʼn reuse-uitdaging vir die meeste van ons geword.

Ons geld koop minder, ons koslys is korter, ons antwoorde is soms net op. 

Wat ek wel in hierdie tyd agterkom, is dat ons GEBEDE heelwat meer geword het.  As Covid een ding in Suid-Afrika teweeggebring het, is dit dat baie mense na die Here terugkeer…

In Juliemaand fokus ons by Solidariteit Helpende Hand op “gee om, gee aan”.  Ek verstaan as jy wonder wat jy kan aangee as jy in jou hart voel dat jy sélf reeds so min het.

Ons gee kos en ons gee ander tasbare, tweedehandse artikels – dit wat ons weet ons sonder kan klaarkom.  En dis wonderlik, want ons besef nie regtig hoe ons uitgooi-goedjies in iemand anders se broodnodige behoefte voorsien nie.

Vandag wil ek egter graag die waarde van nietasbare aangee-dinge beklemtoon.  

Hierdie geweldige moeilike tyd waarin ons onsself bevind, slaan soms ons wind uit!  Mense verloor alle moed en sien geen uitkoms uit hulle omstandighede nie. Baie mense voel dat om hul lewe te beëindig, werklik die enigste “pynverligter” is.

In hulle diepste wanhoop en hartseer kom daar dan soms skewe antwoorde van hulle kant af.  En omdat ons ook self watertrap en ons bes probeer om nie te sink nie, hap ons moontlik terug, want WIE DINK JY IS JY om so met my te praat?  Besef jy nie dat ek jou probeer help nie? Hoe ondankbaar van jou!

Maar besef ons regtig hoeveel TRAUMA daar buite is? Besef ons wat trauma aan ons binnekant doen?

Ons haal diep asem en vra nog ʼn bietjie krag, nog ʼn bietjie geduld, nog ʼn bietjie VERSTAAN. Ons probeer vir ʼn oomblik hulle skoene aantrek – skoene sonder veters waarvan die sole deurgeloop is… En dan kom ʼn sagter antwoord, een wat moontlik help om hoop te gee

Dis dán wanneer die seer agter die onmiddellik geuiterde behoefte sommer uitborrel!  Dis dán wanneer ʼn wildvreemde haar hart met jou deel.  Ons huil en ons bid saam, omdat ons net mens en saam moeg is.  Ons stuur woorde wat vertroos en ons praat moed in!  Soms skuif die professionele grens net vêr genoeg weg om ʼn lewe te red. Só word vreemdes wat jy nog nooit gesien of van aangesig tot aangesig ontmoet het nie, mense met wie jy geselsies aanknoop, lank nadat materiële nood effens verlig is.  Hulle gaan telkemale terug na DAARDIE PLEK waar daar Lig in hulle diepste donker was.

Lewe en dood is in die mag van die tong. 

As ons dan niks fisiek het om aan te gee nie, het jy steeds vingers wat op ʼn WhatsApp LEWE kan tik; het jy steeds ʼn TONG wat LEWE kan spreek.  Daar is mense daar buite wat werklik alleen is. In hierdie abnormale tyd wat ons almal beleef, is hierdie mense nog meer vereensaam.

Gee asseblief aan, al is dit net ʼn glimlag daar waar jou masker soms af is.  Of gebruik jou foon se emoji’s en stuur glimlaggies en drukkies uit; dit beteken iets vir iemand! 

En dalk was jou reaksie van LIG en HOOP dít wat iemand die krag gegee het om vandag nog aan te gaan.

Tanya Rossouw

Maatskaplike werker

Vrystaat-streek