Terwyl gemeenskappe toenemend onder druk verkeer, wys ‘n nuwe peiling deur Solidariteit Helpende Hand dat die meerderheid mense bereid is om te help, maar dat baie steeds voel dit is “iemand anders se verantwoordelikheid”.
Die aanlyn peiling is vir ‘n week in Februarie op sosiale media versprei om beter te verstaan hoe mense diensbaarheid beleef en uitleef.
Die bevindings wys dat die meeste mense reeds op een of ander manier betrokke is in hul gemeenskappe. ‘n Verdere groep wil graag help, maar is onseker hoe om prakties te begin. Slegs ‘n klein minderheid dui aan dat hulle glad nie betrokke is nie.
Volgens die peiling is die grootste hindernis nie onwilligheid nie, maar die gevoel dat iemand anders eerste moet optree. Onsekerheid oor hoe om te help volg kort daarna, met emosionele uitputting en tydsdruk as verdere struikelblokke.
Lize van Zyl, maatskaplike bestuurder by Solidariteit Helpende Hand, sê die data wys dat diensbaarheid steeds ‘n sterk waarde in gemeenskappe is.
“Die oorgrote meerderheid respondente stem saam dat dit mense se waardigheid herstel as hulle die geleentheid kry om te help. Dit beteken die wil om te help is daar. Wat ontbreek, is dikwels duidelike roetes tot aksie,” sê Van Zyl.

Dit is verder opvallend dat respondente verantwoordelikheid vir gemeenskappe se welstand oorwegend as ‘n gesamentlike taak sien. Min mense glo dit rus uitsluitlik by die staat of by professionele persone. Daar is terselfdertyd sterk erkenning vir maatskaplike werkers wat saam met gemeenskappe werk as beskermers van kwesbares en as bouers van volhoubare verandering.
In reaksie op hierdie bevindings stuur Solidariteit Helpende Hand in Maart sy 2026 veldtog, “Diensbaarheid begin by die wil om te help”, van stapel.
Maart is Maatskaplikewerkersmaand, en op 17 Maart word Wêreldmaatskaplikewerkersdag gevier.
“Hierdie maand herinner ons daaraan dat maatskaplike werkers daagliks op die voorpunt van gemeenskapsbou staan. Ons wil nie net hul rol vier nie, maar ook die breër gemeenskap aktiveer om saam met hulle verantwoordelikheid te neem,” sê Van Zyl.
Met dié veldtog wil Solidariteit Helpende Hand gemeenskappe beweeg van ‘n ingesteldheid van “iemand moet my help” na “kom ons bou saam”.
“Wanneer individue, professionele persone en vrywilligers saam verantwoordelikheid neem, word gemeenskapsbou ‘n gedeelde beweging. Die bereidwilligheid is daar. Nou moet ons mense help om dit in aksie te omskep,” sê Van Zyl.
Volg die veldtog op Helpende Hand se Facebook-blad (Helpende Hand – Deel van die Solidariteit Beweging), Instagram en www.helpendehand.co.za vir meer inligting.
Uitgereik deur Solidariteit Helpende Hand
Phillip Bruwer
Mediaskakelbeampte
Tel.: 012 111 8360
Sel: 081 374 5043