Gesin verloor alles in brand

Die Hendrik-gesin van Hartbeespoort moes in die vroeë oggendure van 28 Februarie 2017 uit hulle huis vlug nadat ’n brand ontstaan het. Dié gesin van vier, wat woonagtig was op Bonanza-plotte, is nou haweloos gelaat nadat hulle alles in die brand verloor het.

 

Magda Hendrik het vroegoggend wakker geskrik en gemerk daar is fout. Sy het haar seun (17) en dogter (8) gegryp en uit die huis probeer vlug. Mev. Hendrik het brandwonde opgedoen, maar sy kon daarin slaag om haar gesin van die vuur te red. Die gesin is erg getraumatiseer en woon tans by Willie Hendrik se suster totdat sy vrou aangesterk het.

 

Volgens Celia du Plessis van die Solidariteit Helpende Hand-tak bring die gevoel om alles te verloor ’n totale verslaentheid. “Om regtig alles te verloor, en magteloos te staan en toe te kyk hoe jou hele lewe in ’n oogwink net verwoes word, is hartverskeurend.  Waar begin ʼn mens weer bymekaar maak?” vra Du Plessis.

 

Daarom het die Helpende Hand-tak ingespring om die gesin by te staan. Die tak vra die publiek om die brose familie in hulle tyd van nood met skenkings en donasies by te staan. Lede van die publiek wat wil help, kan vir Celia du Plessis direk kontak, of geld in die tak se rekening deponeer.

 

Hulle bankbesonderhede is:

Solidariteit Helpende Hand

FNB

Rek.nr.: 62346429055

Tak: Centurion

Takkode: 261550

Verwysing: LIM01