GLINSTER IN JOU GRYSHEID EN KRY WEER ’N HUPPEL IN JOU STAP

Elma McKenzie

 

Ek was uiters bevoorreg om as Solidariteit Helpende Hand-vrywilliger die unieke opleiding te kon meemaak wat ons Seniors in Aksie-projek, in samewerking met Senior Mind Moves aanbied.

Dit maak my opgewonde dat ons as vrywilligers toegerus word om met die program ʼn verskil in die lewens van soveel van ons land se seniors te maak.

Elma Mckenzie. Vrywilliger: Seniors in Aksie

Elma Mckenzie. Vrywilliger: Seniors in Aksie

Alhoewel ek die fisiologiese aspekte van die brein goed ken, was dit die eerste keer dat ek kon leer hoe sintuiglike stimulasie die emosionele brein beïnvloed deur slegs die eenvoudigste oefeninge te doen. Hierdie kursus leer jou hoe om beter kwaliteit en meer lewensvreugde in jou senior jare te kan hê.

Die emosionele brein word in drie afdelings verdeel. Deur die invloed van sintuiglike stimulasie, word die emosionele brein sodanig gestimuleer dat dit jou ʼn vreugdevolle, gelukkige lewensuitkyk kan gee. Terselfdertyd word liggaamspiere deur eenvoudige oefeninge  gestimuleer om beter balans en beweeglik te kan hê.

Die brein kan egter NIKS doen sonder jou samewerking nie.

Dit is interessant om te weet dat net soos wat ʼn baba se sintuie ontwikkel en die brein beïnvloed, hierdie sintuiglike werking weer afneem in die senior jare en die brein negatief beïnvloed.

Die baba se vel ontwikkel eerste (aanraking), daarna volg balans en beweeglikheid. Hierdie twee ontwikkelingfases beïnvloed die oorlewingsbrein vir al die outomatiese funksies van die liggaam, byvoorbeeld hartklop, asemhaling en spysvertering.

Daarna ontwikkel die reuk– en dan die smaaksintuie. Hierdie twee sintuie beïnvloed die emosionele brein. Met ander woorde, hoe voel jy emosioneel?  Is jy gelukkig of nors? Is jy depressief of vol lewensvreugde?

Laastens ontwikkel die gehoorsintuig en daarna die vermoë om te kan sien. Hierdie twee sintuiglike ontwikkelings beïnvloed die dinkbrein. Hierdie gedeelte van die brein kan nie funksioneer sonder jou WIL nie. Die dinkbrein is die grootste van die drie dele van die brein, en beïnvloed ook die werking van beide die emosionele en die doenbrein.

In die senior jare neem hierdie ontwikkeling van die brein op dieselfde wyse weer af. Eerstens die sig, daarna die gehoor, dan smaak, gevolg deur reuk, beweeglikheid en balans, en laastens die tassintuig.

Die kursus bied:

Breinoefeninge, byvoorbeeld die antennaversteller, selfvertrouehupstoot, temporale tikkies, homolaterale en bilaterale mars, helderwakker, geheueknoppies, visuele oefeninge, fokusversteller en kragskakelaar

Spieroefeninge, byvoorbeeld arm- en beenstrekke, nekdraaier en -versterker, palmstrekke en skouerstrekke.

Dit is absoluut wonderlik om te weet dat elke eenvoudige oefening ʼn reusagtige invloed op elke deel van die brein het. Die oefeninge is so eenvoudig dat ʼn mens dit steeds selfs in jou rolstoel of bed, indien jy bedlêend is, kan doen.

Ek is self in my senior jare. Ek doen hierdie oefeninge daagliks en vind besonder baie baat en beter lewenskwaliteit sedert ek die inhoud van hierdie unieke kursus begin toepas het.

Daarom beveel ek hierdie geleentheid vir elke senior persoon aan.