Groot bederf en gróót bakkies vorm deel van die Oos-Kaap se projekte

Die Jeffreysbaai-tak het dames genooi om deel te wees van ’n bederfoggend. Verskeie mense wat finansieel, emosioneel en liggaamlik swaarkry is genooi om bederf te word deur ’n heerlike voetmassering, hare en naels wat gedoen is en vele meer. Talle borge soos Izinto, Dischem en Woolworths is betrek.

Dirk Ellis Motors in Jeffreysbaai het ’n projek genaamd AMAROKKE geloods waar die gemeenskap versoek is om ’n Amarok vol rokke aan die Jeffreysbaai-skenkingskantoor te skenk. Daar is ’n heerlike geselligheid gehou en die Amarok het ongeveer 300 rokke opgelewer. Die rokke sal by die skenkingskantoor verkoop word, maar baie van die aandrokke word gehou sodat meisies dit na matriekafskeidsgesellighede kan dra.

Die nuut gestigte tak in Uitenhage het na bejaardes in die gemeenskap uitgereik en nagenoeg 30 bejaarde gesinne is op ’n Saterdagoggend in Oktober besoek. Die oumense was so verras deur die besoek en omgeepakkies met heerlike koekies. Gewoonlik word bekende aftreeoorde en ouetehuise besoek en hierdie aftreeoord aan die buitewyke van Uitenhage word selde, indien ooit, besoek.

Humansdorp-tak se Tuisgenoot, Hetta Lindeque, besoek gereeld bejaardes en voorsien hulle van dit wat die Tuisgenoot-projek aanbied. Daar is egter ander behoeftes geïdentifiseer, soos dié van ’n tannie wie se grasperk in ’n vreeslike toestand was omdat sy nie die geld of die vermoë gehad het om dit in stand te hou nie. Die tak het ingegryp en fondse ingesamel om tuindienste vir die skoonmaak van die erf te betaal.

King Pie en die Despatch-tak het kinders met heerlike muffins bederf. Die kinders maak deel uit van ’n broodjie-projek wat deur die tak geïnisieer is en onderhou word. Hulle was heerlik verras met die goedhartigheid van King Pie en natuurlik die ekstragroot muffins. (Foto’s van uitdeelaksies aangeheg.)