Groot organisasies maak ʼn verskil in kleuters se lewens

Min dinge maak ʼn kinderhartjie so bly soos ʼn nuwe speelding, maar vir die behoeftige kleuters by Ons Plek-gemeenskapsentrum in die Strand is dit nie altyd beskore nie. Daarom was dit ʼn blye dag by die sentrum toe hulle hul grootste skenking speelgoed nog ontvang het. Die skenking van ʼn maatskappy in Engeland sal gebruik word om die byna 100 behoeftige kinders in die sentrum se lewens te verryk.

 

Die speelgoed is deur Early Learning Centre & Mothercare in Engeland geskenk. Hulle advertensiemaatskappy, BigSky Productions, se hoofkantoor is in Kaapstad, en hulle het die voorreg gehad om die reuse-skenking van gehalte-speelgoed aan ʼn plaaslike organisasie te oorhandig. Verteenwoordigers van BigSky Productions het die oorhandiging Maandag 20 Februarie 2017 by die sentrum gedoen.

 

Die kinders kon almal heerlik met die nuwe speelgoed speel. Daar is karretjies, pophuise, glybane en vir kleiner kinders ʼn put waar hulle met balle kan speel.

 

Volgens Joey Lotter, die sentrumbestuurder, is dit die grootste skenking wat hulle nog ontvang het. “Die speelgoed maak ʼn reuseverskil in die kinders se lewens,” sê Lotter. “Baie van hulle kom uit moeilike omstandighede. Die skenking bring bietjie vrolikheid in hulle lewens en sal ook baie help om hulle gesond te laat ontwikkel. Speel is ʼn kardinale deel van ʼn kleuter se ontwikkeling, en danksy BigSky Productions en Early Learning Centre & Mothercare gaan ons nog lank kan speel.”

 

Ons Plek-gemeenskapsentrum is een van twee sentrums wat deur Solidariteit Helpende Hand tot stand gebring is. Dit bied ʼn veilige hawe vir 91 kinders van minderbevoorregte gesinne. Die sentrum het in Oktober 2014 sy deure vir kinders in die Kays Karavaanpark en die Strand-gemeenskap geopen. Daar is ʼn voorskoolse speelgroepie asook ʼn naskoolse sentrum waar kinders hulp kry met tuiswerk en aan ander opvoedkundige aktiwiteite deelneem.

 

Volgens Rowan Raaff van Bigsky Productions spesialiseer hulle in plaaslike en internasionale reklame, soos dié vir Early Learning Centre & Mothercare. “Ons is deur Gift Labuschagne, een van ons werknemers, van Ons Plek-gemeenskapsentrum vertel en ons het besluit om die speelgoed aan Ons Plek te skenk. Só probeer ons om werklik verdienstelike organisasies te help.” 

 

Vir meer inligting oor Ons Plek-gemeenskapsentrum, of om betrokke te raak by hierdie kinders se lewens, kontak gerus vir Joey Lotter by 079 733 9477.