Taknuus: Helpende Hand benodig komberse voor dié winter

Channel Dixon is snoesig teen die winterkoue gepantser. Helpende Hand is op soek na komberse wat aan hulpbehoewende gesinne in en om Pretoria geskenk gaan word.

Solidariteit Helpende Hand se Centurion-tak het begin om komberse vir die komende winter in te samel en daarvoor benodig dié welsynsorganisasie inwoners se hulp.

Volgens Forika Meissenheimer, ondervoorsitter van dié tak, het kombersskenkings oor die afgelope paar jaar baie afgeneem terwyl die behoefte daarvoor vermeerder het. Om dié rede gaan die Centurion-tak vanjaar poog om dié groot tekort aan so ’n noodsaaklike item aan te pak.

“Hoewel ons deure by die Ons Winkel-skenkingswinkel in Bothalaan 86 in Lyttelton Manor oopstaan vir komberse, beplan ons om 13 April ’n groot insamelingsdag te hou waar almal wat ’n kombers bring, ’n gratis pannekoek of twee sal ontvang,” het Forika gesê.

Die insamelingsdag van 13 April word van 10:00 tot 14:00 by Oppistoep Gastehuis in Basdenweg 190 in Die Hoewes gehou.

“Verlede jaar het ons te min komberse gekry om al die gesinne in nood te kon bystaan, so ons hoop met dié trooskosbederfie gaan ons vanjaar sommer baie meer mense kan help.”

Forika het gesê die komberse gaan onder meer aan behoeftige inwoners van Elandspoort, in die weste van Pretoria, asook inwoners van Filedelphia Ark geskenk word. Filedelphia Ark is ’n geregistreerde nie-winsgewende instansie in Kameeldrift-Wes wat skuiling en voedsel aan hawelose en behoeftige mense bied.

“Saam kan ons ’n verskil maak en sorg dat iets wat baie van ons as vanselfsprekend aanvaar, gebruik kan word om die snerpende koue te verdryf,” het Meissenheimer afgesluit.

Vir meer inligting oor die projek of om ’n skenking te maak, bel vir Forika by 082 698 0032.