Skip to content

Helpende Hand betreur die afsterwe van Huis Davidtsz-inwoner

Solidariteit Helpende Hand bevestig met leedwese dat Cora du Plessis op Vrydag, 10 Augustus 2018 in die vroeë-oggendure oorlede is. Du Plessis is Woensdag omstreeks 11:00 deur ’n ambulans na Tswane Distrikhospitaal geneem. Sy woon reeds sedert September 2017 in Huis Davidtsz.

Cornelia Isabella (Cora) du Plessis (71), is een van die 150 bejaardes wat geraak is deur die EFF-aangevoerde staking by ’n ouetehuis in Pretoria se middestad. Sy is in 2017 in Huis Davidtsz geplaas omdat haar verswakte gesondheid dit onmoontlik gemaak het vir haar gesin om haar te versorg.

“Ons is bekommerd dat hierdie laaste paar dae nou sy tol eis, veral op almal wat betrokke was by Huis Davidtsz”, sê Hannes Noëth, Uitvoerende Direkteur van Solidariteit Helpende Hand. “Bejaardes is broos en weerloos. Dit is vir ons as organisasie baie swaar omdat Cora familie was. Haar dogter, Amanda Louw, werk by Helpende Hand en het die afgelope paar weke ’n belangrike rol gespeel in die lewens van Huis Davidtsz se inwoners.”

Noëth het bevestig dat dit onder andere danksy Louw was dat die situasie by Huis Davidtsz onder sy aandag gekom het. “Amanda het saam met ons aansoek om die hofinterdik gedoen omdat ons bang was dat die onverantwoordelike dade van personeel en politieke partye tot die dood van pasiënte sou lei.”

Volgens Noëth is Du Plessis reeds weke lank baie siek en het nie meer geëet nie. Ten tye van die vrystelling van hierdie verklaring het die familie reeds die lykskouing afgehandel, maar wag hulle steeds vir die dokter om die doodsertifikaat te oorhandig. Juis daarom is dit nodig om te ondersoek wat die weerhoudging van hulp as gevolg van die staking op Du Plessis se gesondheidsituasie was.

“Helpende Hand ondersoek tans die nodigheid, al dan nie, van strafregtelike aksies teen die EFF en ook die personeel wat gestaak het, nie oor die sogenaamde onwettige staking nie maar oor hulp verhinder is aan bejaardes in ’n omgewing waar etiese praktyke onder kwesbare publieke belang moet heers”, het Noeth gesê. “Ons glo dat dit die regte ding is om te doen omdat hierdie nie die laaste keer gaan wees dat politici toelaat dat politiek bo die beswil van bejaardes geplaas word nie. Dit is duidelik dat die maatskaplike krisis wat ons land in die gesig staar nie sommer oornag gaan weggaan nie, die politieke wil om dit te bewerkstellig ontbreek. Daarom veg ons voort, vir al die ander weerlose mense wat nie net verdien om versorg te word nie, maar om gekoester te word. En doen ons dit ook ter nagedagtenis aan Cora.”

Helpende Hand het talle bewerings ontvang dat die EFF betrokke is by nog stakings en die ontwrigting van dienste by soortgelyke instellings as Huis Davidtsz. Die organisasie meen om ondersoek na hierdie bewerings in te stel om klaarheid oor die EFF se teenwoordigheid en rol in die gebeure te verkry.

Nandi Mayathula-Khoza, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, het op 6 Augustus 2018 tydens ’n mediakonferensie by Huis Davidtsz aangekondig dat daar ’n indiepte-ondersoek ingestel sal word na die omstandighede by Huis Davidtsz. Daarom het Helpende Hand se maatskaplike werkers ’n volledige verslag saamgestel oor die organisasie se ondervinding en waarnemings in Huis Davidtsz die laaste paar dae.

Helpende Hand se gevolgtrekking met die verslag is dat die gebeure rondom die sogenaamde onwettige staking van die afgelope paar dae nie voldoen aan die standaarde gestel in artikel 17 van die “Older Persons Act 13 of 2016” nie. Dit blyk ook vir die organisasie asof verwaarlosing wat grens aan fisiese mishandeling plaasgevind het vandat die staking op Woensdag, 1 Augustus 2018, begin het, en hierdie omstandighede geheers het totdat die vrywilligers en werkers Vrydag die bejaardes weer begin versorg het.

Medianavrae kan gerig word aan:

Ernst Vorster
Adjunk-uitvoerende Hoof: Kommunikasie
082 794 3158
[email protected]