Skip to content

Helpende Hand brei-projek inspireer honderde breiers landswyd

Brei 'n Blok

Van links is Adele Kruger, Helpende Hand streekorganiseerder in Gauteng-Suid, saam met Nella Coetzee en Meisie Kolenic, inwoners van Wilropark Aftree-oord, besig om blokke vir die Brei-ʼn-Blok-projek te brei.

Solidariteit Helpende Hand se Gauteng-Suid streek het vanjaar ’n langtermyn breiprojek geloods om sodoende komberse vir behoeftige ouetehuise en kinderhuise in te samel. Binne drie maande het die Brei-‘n-Blok-projek sό vlamgevat dat honderde breiers van regoor die land nou daaraan deelneem.

“Dit is net ongelooflik hoe baie ondersteuning ons met hierdie projek kry,” sê Adele Kruger, Helpende Hand streekorganiseerder in Gauteng-Suid. “Ek was aanvanklik maar versigtig om nie oor-optimisties oor die projek te wees nie, maar ek weet nou dat ons met gemak ons doelwit van 1 000 komberse teen Maart 2015 sal bereik.”

Kruger vertel dat 500 dames van regoor die land reeds aan die projek deelneem. “Die projek is glad nie in Gauteng-Suid gebaseer soos oorspronklik verwag is nie. Van Piketberg tot Kakamas brei die tannies dat dit klap!”

Deelname aan die projek behels dat blokke in enige kleur gebrei word, wat later aanmekaar gelas sal word om komberse te maak. Elke kombers bestaan uit 80 blokke. Volgens Kruger verkies sommige dames om sommer self die hele kombers te brei, terwyl ander elke week honderde gebreide blokke vir haar aanstuur.

“Die wonderlike ding van hierdie projek is dat daar nie net komberse vir behoeftiges gemaak word nie, maar dat baie bejaardes by die projek betrek word en sodoende ʼn waardevolle bydrae in hul gemeenskappe lewer,” sê Kruger. “Vir Helpende Hand is dit dikwels net so belangrik om emosionele armoede as finansiële armoede aan te pak.”

Persone wat graag by die Brei-‘n-Blok-projek betrokke wil raak, kan gerus vir Adele Kruger by 079 881 3338 of [email protected] kontak.

 

Mediaskakelbeampte:
Mariné Jacobs
Solidariteit Helpende Hand
Tel.: 012 644 4390
E-pos: [email protected]