Helpende Hand bring gemeenskap saam na bejaarde-tragedie

Die hartseer dood van ’n 82-jarige bejaarde van Emalahleni (Witbank) het ’n gemeenskap saamgebring en ’n geleentheid geskep wat in die toekoms soortgelyke voorvalle kan verhoed.

Annemarie van Heerden, Solidariteit Helpende Hand se streeksorganiseerder van Mpumalanga, het Sondag gesê die dood van Heleen Dinkelmann (82) het haar en die gemeenskap hard getref.

Dinkelmann is Saterdag, 23 September, in die Emalahleni Private Hospital (EPH) opgeneem nadat sy baie verwaarloos en uitgeteer in haar kamer, waar sy privaat loseer het, gevind is.

“Me. Dinkelmann is twee keer in haar vorige blyplek beroof, waarna sy sowat 18 maande gelede besluit het om by iemand in haar gemeente te gaan loseer. Die persoon by wie sy loseer het beweer daar was nie ’n ooreenkoms vir versorging ingesluit nie,” het Van Heerden gesê.

Luidens mediaberigte het Dinkelmann in die loop van die jare twee mans en drie seuns aan die dood afgestaan. Haar twee dogters, onderskeidelik 57 en 65 jaar oud, kon glo min by haar uitkom weens, onder meer, vervoerprobleme.

Van Heerden het op 23 September ’n anonieme oproep ontvang wat tot die skokontdekking van ’n uitgeteerde en bedlêende Dinkelmann gelei het.

“’n Helpende Hand-lid is gestuur om te gaan ondersoek instel en sy my laat weet dat die bejaarde vrou onmiddellik mediese hulp nodig het,” het Van Heerden gesê.

Van Heerden het dadelik hulp ontbied en Legacy Emergency Specialists het ingestem om Dinkelmann na EPH toe te neem.

Mev. Dinkelmann op haar sterfbed

Sy is opgeneem met erge ontwatering, nierversaking en dubbele longontsteking. Verpleegsters en dokters by dié hospitaal het onverpoosd gepoog om haar lewe te red, maar sy is ses dae later dood.

“Tydens me. Dinkelmann se behandeling in die hospitaal het die nuus van haar hartseer verhaal versprei en mense het aan Helpende Hand begin geld skenk vir haar mediese behandeling. Die gemeenskap het duisende rande geskenk. Sowat R20 000 se skenkings het ná haar afsterwe oorgebly en gaan nou deur Helpende Hand in die nuutgeskepte Dinkelmann-studielening inploeg word,” het Van Heerden gesê.

Van Heerden verduidelik die studielening, wat deur Solidariteit se Studiefondssentrum in Pretoria geadministreer word, verskaf die geleentheid om te gaan studeer aan leerders wat goedgekeur is om verder te gaan studeer, maar nie finansieel daartoe in staat is nie. Die studielening word rentevry aan ’n kandidaat toegeken en die Dinkelman-studielening sal ’n jaarlikse instelling word vir ’n student wat, onder meer, in die rigting van maatskaplike werk, verpleegkundige of palliatiewe sorg, wil gaan studeer.

“Ons hoop hierdeur dat me. Dinkelmann se verhaal ’n merkwaardige verskil kan maak, al is sy ongelukkig nie meer hier nie,” het Van Heerden bygevoeg.

Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Solidariteit Helpende Hand, betreur die omstandighede wat tot me. Dinkelmann se afsterwe gelei het.

“Helpende Hand sal ’n ondersoek van stapel stuur om te kyk of enigiemand strafregtelik vir me. Dinkelmann se dood aanspreeklik gehou kan word. Aldus die polisie het niemand ’n saak aanhangig gemaak nie en kan moontlike verwaarlosing of mishandeling dus nie verder ondersoek word nie. Al die omstandighede rakende die oploop na haar dood moet ondersoek word. Alle bejaardes verdien om menswaardig behandel te word en benodig die liefdevolle sorg wat daarmee gepaard gaan. So iets kan nie weer gebeur nie en daarom is die geleentheid wat die Dinkelmann-studielening bied, ’n stappie in die regte rigting,” het Noëth gesê.

Lede van die gemeenskap wat ’n bydrae wil maak tot die Dinkelmann-studielening en meer studente die kans gun om ’n verskil in die lewens van bejaardes te maak, kan Van Heerden by 082 829 2546 bel.