11 Maart 2025
SOLIDARITEIT HELPENDE HAND MEDIAVERKLARING
Die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut het ‘n nuwe mylpaal bereik met 44 versorgingstudente wat vanjaar eed afgelê het om die lig in kwesbare mense se lewens te wees.
Die toekomstige versorgers het Vrydag 7 Maart tydens die Lig van Versorging-seremonie by die instituut se kampus in die ooste van Pretoria belowe om ligdraers in hul gemeenskappe te wees en hoop, deernis en liefde te bring waar hulle geplaas word om dié te versorg wat dit nie self kan doen nie.
Tydens die seremonie het elke student ‘n wit kers ontvang as ‘n eenvoudige maar diep betekenisvolle simbool.
“Die kers verteenwoordig lig. Dit herinner die studente aan hul roeping om hierdie lig te weerspieël deur liefdevolle en toegewyde versorging,” het dr. Elsha Hermann, Solidariteit Helpende Hand se hoof van navorsing en opleiding, by die geleentheid gesê.
“Die vlam wat van een kers na ‘n ander oorgedra is, het die oordra van kennis, vaardighede en empatie gesimboliseer. Dit beklemtoon ook die eenheid en verbondenheid onder die studente – ‘n belofte om mekaar by te staan en te ondersteun deur die uitdagings van hul opleiding en latere beroep.”
Die studente het tydens die seremonie ‘n plegtige belofte afgelê om liefde en lig in hul werk te weerspieël. Hierdie belofte versterk hul toewyding om elke mens wat hulle versorg met respek, waardigheid en deernis te behandel. Dit is ‘n belydenis van hul roeping om hoop te bring aan die kwesbares in die samelewing.
Hermann het die studente herinner aan die verantwoordelikheid wat met hierdie roeping gepaard gaan. “Die vlam wat jy ontvang, moet versigtig opgepas word, want versorging is nie net ‘n taak nie – dit is ‘n kuns wat geduld, sorg en aandag verg. Deur hierdie lig te laat skyn, verander julle lewens en bring julle hoop waar daar wanhoop is.”
Sy het ook beklemtoon dat die kerse wat hulle aangesteek het, net die begin van ‘n groter reis is. “Die lig wat julle aansteek, het die potensiaal om sterker te word namate julle kennis en vaardighede groei. Aan die einde van hierdie opleiding sal julle nie net ‘n kers dra nie, maar ‘n lamp – ‘n simbool van die volle krag en potensiaal wat julle as versorgers besit.”
Sowat 140 versorgers is al opgelei sedert die versorgingskursus in 2021 van stapel gestuur is, en vanjaar word 44 nuwe studente opgelei. Die ses maande lange geakkrediteerde kursus bied ‘n kombinasie van teoretiese en praktiese opleiding. Aansoeke vir die volgende kursus in 2026 is reeds oop. Daar word ook kortkursse soos noodhulp en inleiding tot palliatiewe sorg vanjaar daar aangebied.
“Met ‘n groeiende behoefte aan versorgers in die gesondheidsorgsektor, bied hierdie opleiding ‘n stabiele loopbaanpad. Die Opleidingsinstituut ontvang daagliks navrae van gesondheidsorginstellings en families wat op soek is na goed opgeleide Afrikaanse versorgers. Hierdie beroep is een van die min wat nie deur tegnologie vervang kan word nie en ‘n noodsaaklike diens in die samelewing bly. Dit is ‘n roeping wat lig bring,” het Hermann gesê.
Vir meer inligting oor die Solidariteit H.elpende Hand Opleidingsinstituut, besoek www.helpendehandopleiding.co.za.
//Einde
Fotobyskrifte:
1. Sr. Rita van der Gryp, programkoördineerder en lektor van tuisversorging van die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut, Zelinda Horn, student, en Maria Roux, student, dra hul vlam oor.
2. Toekomstige versorgers belowe om ligdraers in hul gemeenskappe te wees.
3. Esté Gross, gaskunstenaar, Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, Miné Hermann, eregas, en Henning Noëth, eregas, stel ‘n heildronk in.
4. Die Opleidingsinstituut het ook sy eerste studentekomitee by die geleentheid aangewys. Hulle is (van links na regs), Thea Gibbens, sekretaresse, Maria Roux, akademie, Mareli Prinsloo, ondervoorsitter, Carina de Wet, voorsitter, Mandie Strydom, akademie, en Lize Joubert, sosiaal en tradisie.
5. Van die versorgingstudente wat vanjaar eed afgelê het.
6. Sr. Rita van der Gryp, programkoördineerder en lektor van tuisversorging van die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut, dr. Elsha Hermann, Solidariteit Helpende Hand se hoof van navorsing en opleiding, en Peirru Marx, netwerkkoördineerder van Solidariteit se mediese netwerke.
Uitgereik deur Solidariteit Helpende Hand
Phillip Bruwer
Mediaskakelbeampte


