Helpende Hand lig jongmeisies oor borskanker in

Solidariteit Helpende Hand se Wagpos-jeugtak het die meisies van Hoërskool Wagpos bemagtig deur ’n praatjie oor borskanker aan te bied. Die praatjie is deur die plaaslike KANSA-tak aangebied en daar is fondse vir KANSA ingesamel.

Die Wagpos-jeugtak op Brits bestaan uit onderwysers, leerlinge en ’n paar ouers. Die tak fokus op die verligting van armoede by bejaardes en jong kinders, maar is ook ten nouste gemoeid met die bemagtiging van hulle mede-skoliere deur die oordrag van kennis oor belangrike kwessies.

Die leerlinge het besluit om tydens Borskanker-maand hulle gemeenskap bewus te maak van die realiteite van kanker. Daarom is daar besluit om ’n praatjie by die skool te hou om die meisies in te lig oor borskanker, wat dit veroorsaak, hoe daarom vroeg te identifiseer en hoe om dit te oorkom.

’n Spesiale praatjie is gereël waartydens Marieta Swart van KANSA met die meisies gepraat het. Daar is ook by die geleentheid fondse ingesamel vir KANSA deur bandanas en skoenveters te verkoop. Al die meisies en personeel het pienk strikkies ontvang om te dra.

Om bewusmaking vir borskanker te skep is Hoërskool Wagpos se ingang pienk getooi en daar is pienk lint om die skool se bome gedraai.

Volgens Tania Collyer, die takvoorsitter ken almal van ons ken iemand wat geraak is deur kanker. “Ongelukkig is kanker is ’n realiteit in almal se lewens, maar deur veral jongmense in te lig oor die gevaartekens, kan kanker oorkom word.”

Vir meer inligting oor die projekte wat die Wagpos Jeugtak aanpak, kontak gerus vir Tania Collyer op 082 221 0063.