Helpende Hand maak dit maklik met nuwe apps om babas te versorg

Hoe om vir jou kinders te sorg, bly een van die belangrikste vaardighede wat enige persoon ooit gaan benodig. Solidariteit Helpende Hand se AppFabriek maak dit vir Jan Alleman moontlik om apps te bou waardeur hulle hul kennis met nuwe ouers kan deel.

Helpende Hand het besluit om oud en jonk te leer hoe om ’n app te bou, onderhou en te bemark om só ’n ekstra inkomste vir hulself te verseker. Om die projek te loods het Helpende Hand ’n kompetisie gehou wat aan voornemende APPreneurs die geleentheid gebied het om ’n app te bou wat dan beoordeel sou word om die prysgeld ter waarde van R100 000 in te palm. Honderde inskrywings is ontvang en die finale tien deelnemers gaan op 29 Oktober weet wie die top-APPreneur van 2015 is.

Melissa Troskie is een van die top 10-APPreneurs met haar app, “Klein Bondeltjie, groot liefde”. Volgens Troskie sal die app raad gee vir nuwe mammas met babas van 0 – 6 weke. Die app is geskryf om mammas te ondersteun wanneer hulle in hulself twyfel of alleen voel. Dit bied wenke oor bors- en bottelvoeding, badtyd, stimulasie, nageboortedepressie en gee ook raad vir nuwe pappas. “Mammas twyfel baie oor wat hulle moet doen, veral in die eerste paar weke,” sê Troskie. “Hierdie app sal raad gee sonder om dit af te dwing en sonder enige veroordeling.”

Ryno Davel se app, “APPteek”, maak dit moontlik vir ouers om presies te weet watter dosisse van watter medikasie hulle vir hul kinders kan gee. Die app kan inderdaad ’n lewe red. Dit is ’n unieke benadering om die “wonder oor” en onkunde oor mediese behandeling uit die weg te ruim.

Die ander inskrywings in die top 10 is:

  • Tana Kruger van Port Elizabeth – met “Tana Kruger Spraakterapie”
  • Ronel Erasmus van Pretoria – met “Kamae Karate Klub”
  • Adri de Beer van Sasolburg – met “Oppipad”
  • Frik de Lange van Pretoria – met “Boer soek ’n gras”
  • Madeleine Greeff van Pretoria – met “Ezio Graad 2 Wiskunde”
  • Mauritz Stander van Somerset-Wes – met “Namakwaland Blommeprag”
  • Nico Steyn van Pretoria – met “Ons geskiedenis”
  • Hardus Vosloo van Middelburg – met “SA-Helde”

    “Dit is die eerste projek van sy soort in Afrikaans,” sê Annette Taljaard, projekorganiseerder by Helpende Hand. “Ons het ’n wye verskeidenheid apps wat gebou word. Dit is ’n uitdaging vir oud en jonk.

Die APPfabriek is ’n eenvoudige, gebruikersvriendelike platform wat vir jou al die toerusting vir die skep van jou eie apps sal gee. Jy het GEEN kennis van programmering nodig nie. Hoewel die platform in Afrikaans is, kan jy jou app in enige taal en vir enige doel bou. Die handleiding en video’s is gratis beskikbaar op die webblad. ’n Maandelikse fooi, wat jou toegang tot die platform verseker, is wel betaalbaar.

Die APPfabriek is ’n inisiatief van Solidariteit Helpende Hand en vorm deel van die Solidariteit Beweging. Helpende Hand is ’n nasionale organisasie sonder winsbejag wat fokus op die voorkoming, verbreking en verligting van armoede. Vir meer inligting oor die APPfabriek besoek www.appfabriek.co.za, of kontak Annette Taljaard by 012 644 4390, of stuur ’n e-pos na [email protected].