Helpende Hand maak hul lippe rooi vir sanitêre ware

Solidariteit Helpende Hand het alle vrouens, oud en jonk, aangemoedig om op 18 Augustus 2017 hulle lippe rooi te tooi en ’n foto daarvan op sosiale media te versprei. Die doel van die oefening was om bewusmaking te skep oor meisies wat ’n tekort aan sanitêre ware het

Augustus is Vrouemaand en een van basiese regte wat meisies het, is die reg tot onderrig. Ongelukkig is daar baie meisies wat skool mis omdat hulle nie genoeg sanitêre ware het om deur die maand te kom. Om vernedering te vermy, bly die meisies by die huis en kan tot 55 dae skool per jaar mis.

Gelukkig is Helpende Hand sedert 2015 besig om meisies te ondersteun deur die #HelpHanna-projek. Die projek poog om skole en behoeftige meisies deur dié projek op ’n maandelikse basis met die nodige sanitêre ware te ondersteun en sodoende te help verseker dat hierdie behoefte nie meisies uit die skool hou nie.

Volgens Lizelle Joubert, projekorganiseerder, moet daar nog baie gedoen word om mense bewus te maak van die probleem. “Die probleem word vererger deurdat die helfte van die meisies nie gemaklik daarmee is om hulle menstruasie te bespreek nie, selfs nie eens in hul portuurgroep nie. Hierdie meisies is ook nie gewillig om vir hulp te vra nie.”

Jy kan ook help om by te dra tot meisies se selfvertroue en om seker te maak hulle hoef nie skool te mis weens ʼn tekort aan sanitêre produkte nie. SMS die woord ‘helphanna’ na 38969 en skenk R10 tot ‘n Hanna-pakkie wat help om meisies in die skool te hou. SMS kos R10. Vir meer inligting oor die projek en hoe om betrokke te raak en ook by die projek te baat, besoek www.helpehanna.co.za of stuur ‘n E-pos na [email protected].