Helpende Hand is meer as n organisasie dit is n familie

By Ons Plek, Helpende Hand se gemeenskapsentrum, gaan dinge soms rof. Behalwe dat ons 80 kinders het, het ons kinders met baie uitdagende huislike omstandighede. Aan die einde van verlede jaar was my wiele lekker pap en het ek amper ʼn gevoel van nutteloosheid gehad. ʼn Gevoel van maak ons ooit werklik ʼn verskil?  Waarom is ek hier en hoekom sien ek so baie seer? Seer wat ek nie altyd kan regmaak nie.

My werk, wat grootliks behels om met kinders te werk en ook baie uitdagend kan wees, maak dit soms moeilik vir my om af te skakel. Die gevolg hiervan is dat ek dan geïrriteerd raak by die huis met my eie kinders.  In Desember het ons die skokkende nuus gekry van die Brink-gesin se ongeluk en soos wat die dae verbygegaan het en ons almal bewus geword het van die realiteit van die tragedie, het ons ook bewus geraak van die ongelooflike netwerk wat die Brink-gesin ook om hulle het.  Helpende Hand, Solidariteit, hulle kerkgemeenskap, hulle vriende en familie, vreemdelinge, kennisse, ondersteuners van Helpende Hand, selfs my familie en vriende, mense wat goed hier kom skenk, van die ouers en mense betrokke by Ons Plek – almal vra uit oor Danie en sy gesin. Hierdie swaar tyd het gemaak dat ons almal so pynlik bewus word van die manier hoe ons ons naastes en die mense om ons hanteer.

Ek het hierdie vakansie anders gekyk na my kinders; anders gekyk na my familie (waarmee mens gewoonlik geïrriteerd raak rondom Kersfees). Ek het anders gekyk na die feit dat my 3-jarige dogtertjie weier om te gaan slaap, want sy wil nog graag by mamma lê. Ek het anders gekyk na die lewe. Die branders by die see, mooi skulpies, die berge, die natuurskoon. Alles was asof ek dit vir die eerste keer weer sien.

Woensdag 9 Januarie het die skooltjie hier by Ons Plek weer begin. Luan Coetzee* is ʼn 5-jarige seuntjie wat al vir 6 maande in ons skool is. Ons het vir Luan verlede jaar voor die vakansie laas gesien. Toe ek die oggend by die werk kom, sê Debbie vir my hier is groot fout met Luan. Hy wou net heeltyd slaap en sy sê dit lyk asof iemand hom geslaan het. Toe Luan wakker word, het hy verskriklik gelyk. Hy het ʼn opgeswelde oog gehad, hy het moeilik geloop, hy kon nie lekker praat nie en hy het ʼn groot knop aan die kant van sy nek gehad. Ek het met hom na my privaat dokter toe gejaag.

Toe die dokter hoor ek is van Helpende Hand los hy al die pasiënte voor in die spreekkamer en help ons dadelik. Hy kry dit reg om Luan na die Rooikruis Kinderhospitaal te verwys. Ons kon nie sy ouma en oupa by wie hy bly in die hande kry nie. Ons het hulle darem later in die hande gekry. Toe ons by die Rooikruis Kinderhospitaal  aankom, is ons dadelik gehelp. Die dokter kom dadelik na ons toe. Binne ʼn kwessie van twee ure neem hulle X-strale van Luan se been wat seer is asook ʼn breinskandering. Hulle vou hom toe met ʼn kombersie en om-en-by 5 uur die middag laat weet hulle my hy gaan na die saal oorgeskuif word en dat hy heel moontlik gaan oorslaap.

Daar gekom bring hulle dadelik vir hom ʼn bord kos en gemakliker klere. Ek voer hom, maar hy wil niks eet nie. Die suster vra vir my of ek sy ma is en ek antwoord haar, nee. Sy sê ongelukkig kan ek dan nie oorslaap nie. Daar sit ʼn Moslem vrou langs my by haar kind se bed. Sy hoor dit en sê vir my, in Afrikaans, ek hoef nie te bekommer nie, sy sal na hom omsien en met hom Afrikaans praat. My dokter bel my drie keer om te hoor of alles onder beheer is.

Die nuus van Luan versprei vinnig onder ons netwerke. Die maatskaplike werker van die ACVV gee vir my haar privaat selfoonnommer en hou my op hoogte. Die professor by Rooikruis kom praat persoonlik met my en skud my hand. Hy bedank my dat ek vir Luan gebring het. ʼn Dame in die Kaap, van Adderley Boerdery wat al lank betrokke is by die gesin, bel my en sê sy gaan deur ry en vir Luan kleertjies en speelgoed bring. Die uiteinde van die saak is dat Luan bloedkanker het –  ʼn baie seldsame soort.

MAAR:

Net soos in Danie-hulle se geval is Luan ook deel van die Helpende Hand-familie en kon ons, omdat hy deel is van ons familie, hierdie kind na die beste van ons vermoë help, soveel so dat hy nie minder gekry het as wat ons vir ons eie kinders sou wou gee nie. Ten spyte van die  feit dat hy uit haglike omstandighede kom, kon ek, omdat ek vir hierdie wonderlike organisasie werk, vir Luan die beste hulp gee. Daar is letterlik iets goed in almal en wanneer mense swaarkry, staan ons saam. En natuurlik is God se ongelooflike teenwoordigheid in ons lewens ook ʼn realiteit.

Vandag is ek dankbaar vir die feit dat ek by hierdie organisasie werk, maar meer as dit, dat ek kan deel wees van hierdie familie.

Mag ons met dankbaarheid hierdie jaar ingaan. Dankbaarheid vir Rachel en Andrè se lewens, dankbaarheid vir Lise se herstel, dankbaarheid vir mense wat omgee, en die grootste van alles, dankbaarheid vir God. Mag ons asseblief ook aanhou bid vir Luan, vir Lise se fisieke en emosionele herstel, asook vir Danie, die kinders en hulle familie.

Ons hier by Ons Plek open elke oggend met gebed en ʼn dagstukkie. Ons weet en glo dat God se hand hier is en dat ons slegs deur Hom ʼn verskil kan maak in hierdie kinders se lewens.

Met baie liefde uit die Strand.

NS: Luan Coetzee ontvang reeds dié chemoterapie, en ek en juffrou Debbie kan al by hom gaan kuier. Hy lyk al baie beter.

*Skuilnaam is gebruik