Helpende Hand oorheers vanjaar se Kansa-aflos

Die Solidariteit Helpende Hand-tak op Middelburg het gewys wat in hulle steek toe hulle aan die jaarlikse Cansa Relay for Life. Dié Helpende Hand-span is aangewys as die algehele wenners en het ook die trofee vir die beste spangees verower

Die tak het ʼn allemintige 24 lede gehad wat deelgeneem het en kon dus twee spanne inskryf. Van die spanlede het ook ingeskryf vir Meneer en Mejuffrou Cansa. Talita Lötter van die tak is as Mejuffrou Cansa Relay jr. gekroon en Louis Brits is as Meneer Cansa Relay sr. aangewys.

Volgens Carin du Plessis, takvoorsitter van Helpende Hand, was daar groot opgewondenheid, veral by nuwe lede wat vir die eerste keer aan die aflos deelgeneem het. “Die dag-en-nag-lopery om die baan, eier-loop, sakresies, toutrek, hoepels, plank-loop, albaster-visvang en stoeledans (musical chairs)  was nie net groot pret nie, maar ʼn lekker spanbou oefening en terselfdertyd ʼn heerlike kuier,” sê Du Plessis.

“Ons missie en visie is met ander mede-deelnemers gedeel en kontaknommers is uitgeruil. Cansa Relay for Life sien ons beslis volgende jaar weer. Wie weet, dalk skryf ons drie spanne in. As gevolg van ons uitmuntende spangees het verskeie mede-deelnemers geselsies aangeknoop en kon ons hul meer vertel van Helpende Hand en projekte wat ons beplan.”

Op 5 Maart 2017 is aangekondig dat Helpende Hand die algehele wenners van die Cansa Relay for Life in Middelburg 2017 was, en ook dat hulle die trofee vir die beste spangees verower het.

Vir meer inligting oor dié tak asook hoe om betrokke te raak, kontak gerus vir Carin Du Plessis by 072 106 5231.