Helpende Hand Opleidingsinstituut groet rekordgetal versorgingstudente in Afrikaans

21 Februarie 2025

SOLIDARITEIT HELPENDE HAND MEDIAVERKLARING

Die sukses van moedertaalonderrig word vanjaar op Internasionale Moedertaaldag beklemtoon deur die inname van ‘n rekordgetal versorgingstudente aan die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut.

Volgens dr. Elsha Hermann, Helpende Hand se hoof van navorsing, programme en opleiding, onderstreep dit die groeiende behoefte aan goed opgeleide tuisversorgers wat na weerlose mense kan omsien en hulle in Afrikaans kan aanspreek.

“Dit bevestig ook die Opleidingsinstituut se rol as ‘n baanbreker in die veld van gesondheidsorgopleiding. Ons is trots daarop dat ons opleiding in Afrikaans bied, want dit verseker dat ons studente die teorie en praktiese kennis volkome verstaan en met selfvertroue kan toepas. Afrikaans is die derde mees gesproke taal in Suid-Afrika en dit wys hoe belangrik die bevordering en behoud daarvan in ons land is,” sê sy.

Die Opleidingsinstituut bied ‘n omvattende Afrikaanse kursus in tuisversorging aan. Dit rus studente toe om ‘n verskil te maak in die lewens van bejaardes, mense met gestremdhede, kinders en na-operatiewe pasiënte.

Sowat 140 versorgers is al opgelei sedert die versorgingskursus in 2021 van stapel gestuur is en vanjaar word 44 studente opgelei. Die ses maande lange QCTO NKR Vlak 2 Assistentsertifikaat in tuisversorging bied ‘n kombinasie van teoretiese en praktiese opleiding. Die kursus sluit ook ‘n noodhulpsertifikaat, uniform, studiemateriaal en ‘n versorgerstassie in. Die opleiding vind plaas op die Opleidingsinstituut se kampus in Pretoria.

“Met ‘n groeiende behoefte aan versorgers in die gesondheidsorgsektor, bied hierdie opleiding ‘n stabiele loopbaanpad. Die Opleidingsinstituut ontvang daagliks navrae van gesondheidsorginstellings en families wat op soek is na goed opgeleide Afrikaanse versorgers. Hierdie beroep is een van die min wat nie deur tegnologie vervang kan word nie en ‘n noodsaaklike diens in die samelewing bly,” sê Hermann.

Besoek helpendehandopleiding.co.za vir meer inligting en registrasie.

//Einde

Fotobyskrifte:

· Dr Elsha Hermann verwelkom 2025 se studente by die Solidariteit Helpende Hand Opleidingsinstituut.

Uitgereik deur Solidariteit Helpende Hand

Phillip Bruwer

Mediaskakelbeampte

Artikel geplaas in ,